Wednesday 18 March 2015

Saul Barnard gedenkuitdaging

Saul Barnard, die hoofkarakter in Dalene Matthee se Kringe in die Bos, het goud gepan in die Meulbos naby Knysna.  Hy het ook vermoed die Engelse apteker op Knysna verneuk hom as hy sy goud aan hom verkoop.  Dus het hy George toe geloop om sy goud daar te gaan verkoop.  Die vraag is nie hoe ver George van Knysna af is nie... die vraag is jy so hard soos Saul Barnard? 

Die roete.

Ek en Hamman het gedink ons is so hard soos Saul. Ons het rugsakke gepak en is aan die voet van die Phantompas afgelaai op ‘n koel dag een Desember.  Saul het die bospaadjies geken, hy kon die weer lees en hy het geweet waar hy is en waarheen hy oppad is.  

Ons het nie eintlik ‘n idee gehad nie en bloot die teerpad oor Phantom Pass gevolg tot dit grond geraak is. Daar het dit begin reën. Die pad was lank en hard. Te lank en te hard. Daar waar dit weer teer geraak het ons besluit ons voete is te seer en ons is te moeg. Saul was definitief harder en ons is druipstert huistoe. 
 
Profiel van die roete vanf George na Rheenendal, die riviere/passe is aangedui.
Die hedendaagse Saul sou sekerlik in Rheenendal gebly het, want dis die naaste dorpie aan ou Millwood myn.  As hy moes stap George toe sou hy sekerlik dit padlangs gedoen het: dan is daar darem ‘n kans om ‘n geleentheid saam met ‘n verbygaande boer of vakansieganger te kry.  Maar nie baie mense ry meer die kronkelende agterpad, wat bekend staan as die Sewe Passe pad, tussen George en Knysna nie.  Tegnies is dit nie sewe passe nie, maar agt passe... besoek gerus die webwerf

Ek het besluit om Saul na te doen dit sekerlik voldoende sal wees om die roete net in een rigting af te lê: hy het darem nie in een dag soontoe en terug geloop nie. Logisties gewys is dit seker eenvoudiger om van George Rheenendal toe te loop. Die afstand is 60 km met ‘n totale vertikale styging van ongeveer 1400 m.  Die klowe wissel van koel inheemse woude tot meer oop plantasies, dus is die rigting sekerlik afhanklik van jou voorkeur vir die tipe terrein wat jy wil afgelê in die oggendkoelte. 


Vanaf George loop die roete deur die Zwartrivierhoogtepas en verby Saasveld landboukollege.  Na Saasveld sak dit deur die klowe van die Kaaimans en Silwerrivier. Elk van die klowe is oor die 100m diep en onder kruis ‘n brug vroeg uit die vorige eeu die rivier. Die hange is bedek met die tipe bos waarin Saul homself sou tuis vind. 
 
Die Silwerrivier
Reeds vroeg in die dag het ek besluit ek sal die opdraandes uitstap en die res draf soos ek voel en kan.  Na die Silwerrivier klim die roete uit op ‘n vlakte (Wildernishoogte) en loop met boomryke lanings deur plase en kleinhoewes. Na ‘n paar kilos kronkel die pad af na die Touwrivier met sy staalbrug in plaas van beton soos die vorige brûe.  Na die Touwriver klim die roete op na ‘n besige teerpad vanaf Wildernis.  Die pad het nie ‘n skouer nie, dus was dit nie baie lekker om daar te draf nie.  Die motors jaag genadeloos op daardie pad.  Gelukkig verskyn ‘n skouer, of ten minste iets waarop jy kan draf, nie te ver af in die pad nie.  Hierdie stuk pad is omring deur oop velde en dit is jy, die pad, en die son (en elke nou en dan ‘n kar wat TE hard gery word). 
 
Touwsrivier
Die teerpad hou aan met lang reguit stukke oor die Dieprivier met sy moderne brug wat die noodsaaklikheid van afsak in ‘n kloof onnodig maak.  Al sou die kloof ‘n welkome lafenis teen die monotoon van die warm teerpad gebied het.  

My mikpunt was Karatara.  Daar is ‘n kafee en ek beplan om daar goed af te saal.  Ongelukkig is dit is nog 12 km af in die pad met die Hoogekraalrivier tussen my en die 1,5l Coke wat ek myself al sedert die onaangename nou teerpad beloof het.  

Hoogekraal is formidabel.  Voor ek afsak rivier toe, kry die teerpad sy ry Ruigtevlei toe (Sedgefield se wêreld).  Die spilpunte tik-tik in die lande, maar net buite bereik van die pad.  In die hitte is daar nie eens ‘n windjie wat van die sproei my kant toe waai nie.  Die son bak en die hitte slaan met die stof uit die pad  - dis immers die middel van Desember.  My motivering was laag, maar ek druk maar deur, want ek is in die middel van nêrens en dit sal ‘n lang wag wees as ek hier langs die pad gaan sit.  So begin die sielkundige speletjies in alle erns.  ‘n Amperse moedbreker is dat die pad tot op die hoogste punt styg voor die padgode jou toelaat om af te sak na die rivier – vandaar die naam Hoogekraal.

Stamperig af met die pas van 1882, oor die mooi ou sementbrug en weer stamperig anderkant uit. Karatara is nog 7km aan en selfs die gelykpad raak nou moeite om te draf.  Soos alles in die lewe gaan die 7km ook met tyd verby, as jy net aanhou beweeg.  

Ek strompel uiteindelik by die Highland Home kafee in by Karatara.  Die dame agter die toonbank wil weet hoe ek daar gekom het, maar ek is nie lus vir verduidelik, of om op daardie stadium aan die ontvangkant van die “jy is bedonnerd”-kyk te wees nie.  Dus lag en knik ek net toe sy vra of ek fiets gery het.  Onder die koelte van die boom voor die kafee se deur het ek ‘n overpriced Golden Delicious appel en die laaaang beloofde Coke geniet asof daar nie meer Coke in die wêreld oor is nie.

"Barrington"
Die laaste 12km sluit twee passe in: die Karatarapas oor die Karatararivier, net buite Karatara en die Homtinipas kort voor Rheenendal. Tussen-in lê oop lande in die omgewing van Barrington (al bestaan Barrington nie op ‘n kaart nie, is daar wel ‘n kwekery).  Na Barrington, waar die teerpad wegdraai N2 toe, is jy in ‘n wêreld waar niemand kom tensy hulle daarheen oppad is nie.  Die pad skuif stadig onder my voete verby, maar die einde is in sig. Dit het my ‘n oomblik gegee om te reflekteer op Saul en die mense van die gedeelte van dié wêreld: die wat naby aan die beskawing bly, maar tog kies om eenkant hulle ding te doen. Of dis in elk geval die gevoel wat ek gekry het. 
 
Oppad na die Homtini.
Die afsak na die Homtini is warm en steil en sou die laaste spyker in my kis gewees het as dit nie was dat ek geweet het die einde lê net anderkant die bult nie.  Rheenendal self is ‘n versameling van ‘n paar huisies met ‘n kerk en skool. Ek skuifel deur die dorp.  Net buite die dorp lê die eindpunt: Totties, vernoem na die matriag van die Van Rheenen familie (wat die saagmeule in die omgewing bedryf het).  By Totties is ook die afdraai na die Meulbos en ek kon nie anders as om my spreekwoordelike hoed te lig in erkenning van Saul nie.  

Die pad is hard, maar Saul is harder. 

Totties by Rheenendal.

No comments:

Post a Comment

Lekhubu-eiland en Tuli-blok gedurende die reënseisoen

Dit is tans nie min warm in Botswana nie. Lae tot middel 30'C deur die dag. Snags koel dit nie veel af nie: 08:00 die oggend is dit ree...