Monday 25 May 2015

Die hoogste, grootste en langste van Namibië: die langste.



Die Namib-Naukluft wandelpad is agt dae en 120 km lank. Daar is nie kort paaie soos in die Visriver canyon nie en jy stap ook nie die heeltyd afdraand nie, inteendeel hoë berge word geklim.  Dit word onder stappers gereken as een van mees uitdagende roete in die Suidelike Afrika, nie net as gevolg van die afstande maar ook as gevolg van die harde, droë terrein.

Net voor die Naukluft stap (in 2005) het ek ook die Visriver Canyon gestap (die grootste, en die hoogste kom nog).  Dus vat ek die pad van Ai-Ais Noorde toe: Keetmanshoop verby draai ek by Mariental af na Maltahöhe.  In Maltahöhe word dit grondpad na Büllsport.  Die wêreld is hier nog redelik plat pad, maar op ‘n hoogte kan jy sien daar anderkant die vlaktes begin goeters op die horison uitsteek. Die pad gaan reguit soontoe en met reguit bedoel ek die Namibiese reguit.  Anderkant daai gebergtes lê die Namibwoestyn.  Die berge tussen jou en woestyn word die Naukluftberge genoem.  En met rede so genoem deur die Duitsers, want dis ruwe berge met nou klowe en groot kranse.  
  
Tipiese terrein op die stap.

Die minimum groepgrootte vir die Namib-Naukluft is drie mense. Aanvanklik was ons drie wat sou stap, toe moontlik vyf en ewe skielik was ons net twee.  Nie ‘n probleem nie, want ‘n ander groep sou dieselfde ook begin stap het.  My stapmater, Dorette, was reeds by die beginpunt en ek het geen probleem daarmee as dit net ons twee is nie: al is sy is kort en weeg seker net meer as dubbeld as wat die Groot Groen Pampoen in die Vis geweeg het (die GGP is my rugsak, wat 24kg geweeg het...) en is sy een van die min mense wat my al in my lewe moeg gestap het.  So die ander groep kan maar hulle ding doen, ons is heeltemal selfstandig.


Die selfstandigheid kom wel teen ‘n prys en ek het verwag dat my sak bietjie swaarder sal wees vir die Naukluft, want ons dra al agt dae se kos saam.  Dit is nie die norm nie, want jy kan die vierde aand se hut/skuiling per voertuig bereik en voorrade daar gaan los.  Ongelukkig het ons nie ‘n gepaste geveerde voertuig tot ons beskikking gehad nie en boonop neem dit die veldwagter in sy bakkie die beste deel van die dag om te soontoe en terug.  So dan moet jy maar dra.  

Ek word wel bietjie onaangenaam verras toe ek by die beginpunt aankom, want net Dorette sit op die stoep.  Die ander groep is nêrens in sig nie (hulle sou op die ou einde twee dae later eers begin stap).  So blyk dit ons sal nie kan stap nie, want ons moet mos drie mense wees.  Geen probleem nie.  Ons moes bloot aan mekaar, en die Naukluft se personeel, erken dat twee mense nie die ideale groepgrootte is nie en ons bewus is van die risikos.  Toe laat hulle ons toe om in die letterlike pad, spreekwoordelik te val.

Die onderhandelinge met die park bestuur het ons wel vertraag en ons kon eers ongeveer 11:00 begin stap. Aanvanklik neem die roete ons op in ‘n rivierloop, maar die ronde klippe ons net genoeg laat rondval dat ons swaar sakke goed in die skouers in sny, boonop is die son ook warm.  Na die rivier begin die eerste klim: op na “Elephant skin trail”.  So genoem omdat die klippe lyk soos olifantvel.  Behalwe op die plekke waar iemand al op die klippe geval het, want daar lyk dit soos mensvel.  Orals sien jy wildspaadjies en kort voor lank ontneem ‘n armlastige bergdonkie (zebra) wat nie wou stil staan nie my van my kans om die voorblad van National Geographic te haal.  Vanaf die bopunt van die klim kyk jy uit oor vlaktes en klowe wat aanhou vir sover die oog kan sien.
Eerste aand se skuiling: Putte
Putte skuiling
Die geweste is baie maar droog in die winter, maar elke nou en dan word jy verbaas hoe water op die onmoontlikste plekke gevind kan word.  Een so plek word gepas genoem “Fonteinkloof” is ‘n letterlike oase.  Na ‘n vinnige lafenis klim ons ‘n skerp rant met losserige klippe: daar is nie veel van ‘n paadjie nie, maar die rigting word goed aangedui met bakens.  Vandaar stap ons op ‘n zebrapad tot by die eerste skuiling, Putte. Die naam is heel gepas, want die water is so 200m op in die kloof in ‘n diep put en die pomp werk met ‘n handslinger. (Elke aand kry jy jou water op ‘n ander manier, so dis iets om na uit te sien en/of uit te figure.)  Omdat die water met ‘n baie lang pyp gevoer word het jy mater nodig as jy skoon wil gaan slaap want anders gaan jy die heel tyd moet hol tussen die slinger en die pyp se punt. 

Aandete het bestaan uit smash, want anders kan jy saamdra wat lig en jou agt dae lank gaan voer? Dorette is vol lof vir die oulike voedselwetenskaplikes wat die produkontwikkeling gedoen het (drie raaie wat sy doen).  Ons sou later nog baie kreatief raak met verskillende variasies van Smash bedien... 

Soos die donker daal gaan ons maar slaap.  Aanvanklik het ek bietjie onrustig geslaap, want die hele skuiling is besaai met duwweltjie wat my baie maklik vir die res van die stap baie hard sou laat slaap as een my nuwe matras ‘n gat steek.  Die geskarrel voor slaaptyd om al die duwwels op te tel het Dorette baie vermaak verskaf aand.

Na koffie en beskuit die volgende oggend, word die rant geklim om aan die anderkant weer te af – niks vreeslik indrukwekkend nie en ons voetsole sing – elkeen in sy eie wêreld. Breakfast in ‘n rivierlopie waarna die eerste Jolly Jammer geëet word vir die dag – seker die Boeing is al oor. Hier by 11:00 is dit weer tyd vir eet en Game drink. Toevallig kom ons toe by die windpomp wat Bergpos genoem word. Hier kan daar keuses gemaak word: As jy nie die volle agt dae roete wil loop nie, kan jy hier aanloop na dag 3 se skuiling (Adlerhorst), want môre gaan jy weer by Bergpos verby kom. As jy die volle roete volg moet jy nou in die kloof af.  Die kloof se naam is Ubusiskloof en aan sy einde staan ‘n ou plaashuis.  Dis die hut vir aand.  Die volgende môre  moet ons dan weer die kloof uit. Ons was redelik vroeg by Bergpos, want ons altwee is nie vreeslike laatslapers nie.  Ons besluit toe om liewerster net met ons middagete en 2 liter water in die kloof te af.  Dus net middagete by die hut te eet en dan weer uit te klim.  

 Net soos ons in die kloof begin afstap lê daar ‘n redelike vars harslag langs die pad: die gorrelpyp en ander dinge van een of ander ongelukkig dier. Daar is geen sleepmerke nie, so ek dink maar net: “Dis interessant”. Soos ons verder in die kloof afstap, sien jy hier en daar ‘n bloedspatsel, wel droog maar nog nie swart gebrand nie. Soos ek maar kan wees begin my verbeelding bietjie op hol gaan.  Ewe skielik lyk ons tweetjies maar baie alleen en eensaam in die groot wilde wêreld vol ongediertes.  Ek weet luiperd se kind is baie sku, maar as ek tussen die kat en sy middagete kom weet ek nie of die kietsie dalk ‘n persoonlikheidsgedaanteverwisseling kan ondergaan nie. 

Die harslag gedoente, drie ure later.
So stap ons af in die kloof en dis grafstil (excuse the pun).  En die kloof word al hoe nouer en nouer.  Op die nouste punt van die kloof stap ons om ‘n draai en skielik is daar ‘n fontein voor ons.  Langs die fontein staan ‘n groot boom en in die boom sien ek net poot hang.  Ek het nie lank genoeg gestaan om uit te vind of dit ‘n vars karkas was of nie, want ons is vinnig en wyd daar verby.  

Die poot in die boom, ook geneem met die terugkomslag.
Die kloof self is baie mooi en om elke draai verander die uitsig. Op plekke moet jy met kettings teen die kranse afklim – geen grap as jy ‘n rugsak op het nie, maar ons het gelukkig vinnig gevorder sonder ons pakke.

Ubisiskloof se een kettingklim (ketting links op die foto)
Ubisiskloof onder uit.

Ubisiskloof se hut/ou plaashuis.

Middagete is by Ubisiskloofhut genuttig. Daar is spoeltoilette en als, maar die huis word nie juis instand gehou nie. Na ete is ons weer die kloof uit, in ‘n heel ligte luim. Soos die fontein nader kom het ek weer begin wonder wat ons daar sal kry.  By die fontein hardloop daar net dassies en geen teken van enige kat nie.  Terug by die sakke word die windpomp geklim en vandaar stap oor ‘n laaaaang vlakte na Adlerhorst skuiling.


Adlerhorst skuiling


Soos ons oor die vlakte loop word ek deeglik bewus dat ons in die wildtuin is, want daar is baie dierelewe reg rondom ons.  Nie noodwendig altyd sigbaar nie, maar die tekens is volop.  In die nag hoor jy ook allerhande vreemde geluide, want by tye senutergend kan wees.  Soos daai aand wat Dorette wakker word in die middel van die nag van ‘n onaardige gesnork, sommer hier by die skuiling (nie ek nie! – later agtergekom dis was ‘n trop pajamaperde).  Die volgende môre toe ek gaan teewater maak, spring daar ook ‘n baie groot “dassie” weg toe ek by die skuiling uitstap.  Dus al was ons bietjie baie afgesonder was dit baie lekker, want jy besef maar net dat jy is nie hier die baas nie.  Die ongereptheid asook die stilte en die vryheid van die oop vlaktes het telkemale my asem weggeslaan.

Die volgende oggend loop ons vir lank af in ‘n rivierloop wat skielik eindig in ‘n hoë krans.  Dis ook nie hoe nie en die paadjie klim sommer steil teen die kant van die krans af tot by die onderpunt van ‘n waterval. Bitter indrukwekkend – ongelukkig was daar geen water nie, maar as daar is sal dit iets ongeloofliks wees om te sien. Aan die onderpunt klim ons op ‘n jeeppad wat lank en vervelig in die warm middagson is.  

Ons kom by Tsamst-Ost skuiling aan vir ‘n laterige middagete – bietjie te laat want ek het al bietjie “hangry” geword.  Die skuiling is gebou onder ‘n boom wat ‘n versamelvoëlnes gewen het en die goed kwetter verskriklik. Dorette maak hulle elke nou en dan stil met ‘n verergde: “Seeeuuns!”. Daar het ook ‘n verdwaalde gemsbok en paar springbokke kom deur wals en hulle erg ontnugter om mense daar te kry. Jy kan die hut met ‘n motor (verkieslik 4x4) bereik, so die kos vir die volgende vier dae kan daar gelos word. Maar soos ek reeds aangedui het is ons tuff (of stupid!?!), want ons daar als saam – ek het begin met so 25kg en Dorette met so 15kg.
Tsamst-Ost
Die waterbron by Tsamst-Ost was ‘n put langs ‘n stellasie met twee groot tenke met sonkragpomp en als. Maar die ding is so toegedraai in doringdraad dat ek nie gedink het of opgelet het of dit nou vir ons beskore was nie. Ons het die put en emmer metode gevolg en soos baie vuil mense agter die longdrop gaan was. Die volgende oggend sien ek wel daar is ‘n kraan, nogals op ‘n lekker stort-hoogte by die stellasie.  Dit NA ons reeds al ons waterbottels volgemaak het.

Toe begin die bult klim.  Die bult het aangehou tot lank na ontbyt – drie ure se loop. Nou nie konstant bult nie, maar op en af. En as jy bo kom, begin jy afsak na die Melkbosvlakte (wat ons vir die res van die dag sou besig hou).  Ons sak die bult af op ‘n paadjie wat nie te lank te vore  deur twee groot luiperds gestap is nie.  Gelukkig in die teenoorgestelde rigting. Die aand se skuiling se naam is Die Valle, want net op in die kloof van die skuiling is ‘n paar allemintige waterval.
Die Valle skuiling met die valle in die agtergrond.


Die een waterval, spot the idiot for scale.


Die volgende oggend klim ons die “Broekskeurbult”, wat ons aan die bo-punt van een van die valle uitbring, ‘n aptytwekkende klimmetjie.  Die uitsig is was wel pragtig.  Van die waterval klim ons in die kloof op tot heelbo, maar gelukkig is die omgewing darem interessant. Die opvolgende vlakte was lank en warm en toe ons sien dat ons gaan weer omtrent teen middagete (en in die hitte van die dag by die hut aankom) eet ons net daar en dan onder die eerste beste koelteboom. Na ete nuttig kap ons ‘n liederlike middagslapie, met die smaak van mint sjokolade in my mond.  Ek was so gelukkig ek het nie een die klippe onder my gevoel nie. 

Bo Broekskeurbult en die watervalle.
Die hut het wel kort daarna gekom: Tufa skuiling.  Die aand het ons maar vroeg gaan slaap, want die eerste ding op die spyskaart die volgende môre was ‘n Bult, met die klem op die hoofletter. Eerste breakfast is by die hut geneem. Aan die einde van die bult is tweede ontbyt geneem, want jy het dit verdien. Die klim in die kloof is maar lekker steil, op ‘n paar plekke moet jy weer met kettings uitklim teen gladde rotswande - die sak op jou rug vergemaklik nie noodwendig dinge nie, maar as jy net aanhou kom jy wel bo uit. 

Die Bult, op in daai kloof is die kettings.
 
Een van die vele kettingklimme op na Kapokvlakte.
Kapokvlakte se skuiling - die aarde is plat.

Bo is letterlik bo en vanaf die vlakte (Kapokvlakte) is jy op die dak van die Naukluftberge en die hele wêreld lê oop om jou.  En dis plat, so plat jy sien die stof soos die springbokke hol voor jy hulle sien.  By Kapokvlakte skuilings eet ons middagete met bekers tee. Na middagete en nog ‘n klipperige slapie besluit ons dit weer die laaste dag ook te stap en deur te druk na die eindpunt.  Die laaste dag is nie so lank nie en die terrein heel begaanbaar en die beloning aan die einde is groot – allerhande lekkernye in die kar, beddens wat nie op die grond is nie en ‘n yskas met vol beweraries.

Na drie en ‘n kwart ure kom ons by die eindpunt aan. Die aand word daar fees gevier en al die lekkernye wat nog in ons sakke was word opgeëet – ons het immers twee dae se kos oorgehad. Die warm stort was ‘n wenner en ons gesels tot laat oor hoe gelukkig en bevoorreg ons was om die stap te kon beleef.  

Die groep van twee het heel goed gewerk, maar dis beslis nie die aanbevole aantal nie – jy is mos net eenmaal jonk en stupid, wel presies tot iets ernstigs gebeur.  Dit is ‘n wonderlike stap – wat dit wel uitdagend maak is die totale afstand – kies jou stapmaters mooi! Koppe kan rol as jy te lank in dieselfde groep mense se geselskap is. Die groot ding is die terrein. Dit is baie klipperig ongelukkig nie net rivierklippe nie, maar ook klippe wat wissel rotsblokke tot blokkies (gemiddeld so half-brick) wat nog nie heeltemal hulle lê gekry het nie. Die moontlikheid vir rondval met die swaar rugsak moet dus nie uitgesluit word nie. Dan is daar die kwessie van die kettings. Kettings moet liefs maar net vir ondersteuning en balans gebruik word, maar daar is plekke waar jy omtrent 100% van jou gewig op die kettings moet sit en vertrou dit hou.  Dus sal iemand met wat aan hoogtevrees ly lank op hulle tande sal moet kners.  Maar dis ongelooflik om so in die woeste berge te stap en die dierelewe is iets besonders.

Daarna is ons Windhoek toe – vir stoof gekookte kos, herstel en regmaak vir die hoogste ene:  die Brandberg.

Lekhubu-eiland en Tuli-blok gedurende die reënseisoen

Dit is tans nie min warm in Botswana nie. Lae tot middel 30'C deur die dag. Snags koel dit nie veel af nie: 08:00 die oggend is dit ree...