Marthinus is
Herman se neef (om hulle identiteit te beskerm gebruik ek hulle doopname). Hy
is lank en lenig, bruingebrand met ‘n wilde bos hare. Hy kom van ‘n plaas in
die Kalahari en jy sal hom nie maklik op ‘n ander plek vang uit vrye keuse nie.
Sy bakkie se naam is Dinsdag, want dis die enigste dag waarop daar pyl getrek
kan word dat dinge op die plaas (meestal) gebeur soos hy dit wil hê. As hy in
die rondte is, is ‘n goeie kuier ook. Hy praat wel nie baie nie, maar het baie
planne.
Herman kom
oorspronklik van waar die Kalkveld die Kalahari in die Suide van Namibië
ontmoet. Hy is die fikste vetste mens wat ek ken. Dit help dat hy lank is, want
so steek hy sy rondheid eintlik goed weg. Wat nie help nie is dat hy sulke
kieriebene het. Hy het hulle “Spyker” en “Riet” gedoop, want die een is dunner
as die ander. Hy is ook ‘n man vol idees. Een van hulle was dat hy gedink het
dis ‘n goeie idee om in 2013 die Visrivier canyon te gaan hardloop.
Spyker, Riet en die stokies. |
Die Visrivier canyon in die Suide van Namibië is die grootste canyon in Afrika en die tweede grootste in die wêreld. Die staproete deur die diepste deel van die canyon neem gewoonlik vyf dae om te voltooi, maar sedert die staproete oopgemaak is, was daar al geharde manne (en dames) wat die roete in een dag probeer voltooi het. Sedert 2011 is dié uitdaging ook ‘n formele wedloop wat gewoonlik plaasvind die naweek naaste aan die volmaan in Junie. Daar is twee afstande: die Ultra 100 km en die Lite 65 km wedloop. Die wedloop begin by die bopunt van die Swaelbronne se nooduitgang. Die 65 km sak direk af na die canyon via die nooduitgang. Die 100 km draf 10 km op die rand van die canyon tot by die tradisionele stappersbeginpunt. Vandaar volg die 100 km roete die staproete van 87 km.
Die 87 km van die
staproete word gemeet op die rivier se loop. Natuurlik is dit nie hoe enige
iemand dit sal loop (swem?) nie: die rivier maak etlike wye draaie wat gesny
kan word. Natuurlik is daar ook plekke waar mens met ‘n ligte klimmetjie uit
die rivierbedding omtrent ‘n hele draai kan uitsny. Op die wedloop se roete is
daar maksimum drie punte waar deelnemers moet aanmeld: onder in die canyon by
die Swaelbronne se nooduitgang, ‘n paar kilometer van die begin af en Kochasdrif,
20 km voor die einde. (Die 100 km meld ook aan by hulle afgaanpunt.) Dus is
daar ‘n groot stuk waar deelnemers self hulle pad moet vind.
Herman het my maklik
omgepraat om saam met hom die “Lite” te doen. Ek is seker hy het ook die saadjie
by Marthinus geplant, maar Marthinus is nie ‘n man vir half measures nie: hy skryf
toe vir die Ultra in, want hy het ook “Born to run” van Christopher McDougall gelees.
Kort opgesom maak die boek die punt dat ons as mens eintlik gemaak is om lank
en aanhoudend te kan hardloop en ook dat die moderne skoen nie die voet se
natuurlike beweging toe laat nie en dit gee aanleiding tot beserings. Die
sterre van die boek is die Tarahumara Indiane van Meksiko wat met sandale (huaraches) die hele plek vol hol. So sit Marthinus een aand op die stoep
van sy plaashuis, rustig uitgekamp met sy stokie pantoffels aan. Die manne
bring nog die laaste vee by die werf in, maar daar gaan iets fout en Marthinus
moet opspring om te help keer. So besef hy die stokies hardloop nogals
gemaklik, behalwe dat die sole bietjie te dun is vir die Kalahari duwweltjies.
Paar dae later staan hy in die stoor en sien ‘n vurkhyser se voorwielband lê
daar eenkant. So in die dink glip Marthinus sy voet in die tyre in en besef dat
die tyre nogal gemaklik pas aan die ronding van sy voet. Ter stons sny hy die
tyre op en gom dit aan die sool van sy stokies en daar het hy sy nuwe
hardloopskoene. Toe Marthinus by die wedloop opdaag het hy al etlike honderde kilometres
met sy stokie skoene gehol en geen probleme opgetel nie.
Die aand voor
die wedloop raak Marthinus en ‘n ander local om ‘n bottel wyn (of dalk iets
sterkters) aan die kuier. Later bestudeer hulle die kaart in diepte. Ek was nie
self by nie, maar ek verneem hulle het met nuwe oorgawe (en ‘n nuwe plan) gaan
slaap.
Met sy surfer
tan en bos hare maak Marthinus gou vriende, veral onder die skoner geslag. So
het hy gerëel dat hy sy proviand eers by die afgaanpunt kry en dus die eerste
10 km sonder ‘n sak kan draf. Verder sal die res van sy kos en benodighede by Kochasdrif
vir hom wag, sodat hy ook met die minimum die grootste gedeelte van die canyon
kan draf. O en die sweepers sal ook ‘n ander paar skoene (vir in case) afdra na
waar die Lite en die Ultra se roetes mekaar ontmoet.
Die oggend lyk Marthinus
heel vrolik en reg vir aksie toe hulle wegspring. Ek en Herman begin ‘n uur
later met ons werk vir die dag. Ek het my dag heelwat geniet en maak nog in die
lig klaar. Vroegaand kom Herman ook by die eindpunt aan en hy help my verder met
die verversings, wat ruimskoots deur die hoofborg Windhoek Lager verskaf word, terwyl
ons op Marthinus wag. Ons het verwag dat Marthinus eintlik nie te ver op Herman
se hakke sou gewees het nie, maar soos die nag kouer raak is al wat uitkom Marthinus
en sy medepligtige. Toe meeste van die dames in die wedloop reeds klaar gemaak
het begin Herman bekommerd raak en probeer uitvind waar dié manne is . Die
organiseerders vertel hom dat die sweepers (wat die heel agterste hoede dek)
reeds by Kochasdrif is en geen sout of water van Marthinus en die ander makker
weet nie. Toe kom die sak patats uit dat met die vorige aand se bestudeer van
die kaart by die lig van die bottel Marthinus en sy makker besluit het dat die slimste
ding om te doen is om net na die Swaelbronne se checkpoint uit die canyon te
klim en dan op die rand te hardloop. So entjie voor Kochasdrif kom die
Rosyntjiebosrivier as sytak van die Visrivier in die canyon in. Hulle plan was
om in een van die bolope van die Rosyntjiebos in te klim en dan dié te volg terug
na die canyon.
In blou is die staproete en in rooi my interpretasie van die "goeie idee". |
In hulle
voortvarendheid het slegs Marthinus water gedra, want hulle plan was om tjop-tjop
by Kochasdrif te wees. Ongelukkig, toe die ander man die eerste sluk water van Marthinus
se Camelbak wil neem weet hy nie lekker hoe werk die “bite valve” nie. Hy trek toe
die valve uit en suig sommer uit die pyp. Met die terugsit doen hy dit nie behoorlik
nie. Toe Marthinus sy eerste sluk wou neem, kom hy agter dat die natterigheid
wat hy op sy rug gevoel het nie alles sweet was nie. Op die punt moet ek noem dat dit daardie jaar
so droog was dat geen stappers in die canyon toegelaat is nie. So al wat die twee kon doen was om voort te
beur.
Ek verstaan dat
dit later maar vreeslik broekskeur gegaan het met die twee. Die Rosyntjiebos
was droog soos poeiermelk en die son was warm (34 grade is daardie dag onder in
die canyon gemeet). Later in die dag het hulle nie meer gepraat of na mekaar
gekyk nie, want die opgee in die ander se oë wou nie een sien nie. Teen
laatmiddag kom hulle wel op ‘n beslykte poeletjie water af, wat blykbaar nog
nooit so goed gesmaak het nie. Met water tekort tydelik opgelos word hulle gekonfronteer
met die feit dat hulle die Rosyntjiebos behoorlik onderskat het. Dit is vol
klippe en los sand en hulle kon glad nie so vinnig beweeg as wat hulle wou nie.
Boonop is meeste van hulle kos by Kochasdrif. En dit was besig om vinnig donker
te raak.
Uiteindelik
bereik hulle weer die Visrivier, maar die Rosyntjiebos kom in op ‘n draai wat
gewoonlik nie gestap word nie. Hulle sin vir rigting was ook nie te waffers nie
en blykbaar stap hulle toe stroomop (die rivier het nie gevloei nie…). Gelukkig het iemand die shortcut wat
Rosyntjiebos uitsny met ‘n fietsliggie gemerk en hulle kry toe die en kom so terug
op die roete. Of miskien het hulle
stroomaf gestap en die volgende shortcut gekry, wat ook gemerk was – ek kon nie
mooi die storie uitpluis na die tyd nie. In elk geval, na lang gesukkel
strompel die twee om half-een die oggend by Kochasdrif. Teen daai tyd het ek al
gaan slaap en toe Herman dié berig kry besluit hy kan ook maar inkruip, want
die manne sal bakkie klim en direk huistoe kom.
Blykbaar nie. Die manne sê hulle gaan self by die huis kom, ten spyte
daarvan dat hulle gediskwalifiseer nie. So beur hulle voort tot by die eerste
shortcut na Kochasdrif, waar nogals ‘n stywe randjie geklim moet word (Bandage
Pass). Daar steek die medepligtige vas en sê hy klim nie een meter verder nie
en draai netso in die praat om. Toe gaan Marthinus maar saam, want hy kon sien
hy gaan nie die man omgepraat kry nie. Die oggend sesuur word hulle by Ai-Ais
afgelaai en die medepligtige het blykbaar onmiddellik die pad gevat huistoe.
So bietjie later
kry ek vir Marthinus waar hy langs die swembad sit en staar na die water. ‘n
Halwe bier staan al warm langs sy stoel. Sy oë sit diep in hulle kaste. Ek vra
hom hoe was dit en lyk of hy deur my kyk na iets wat hy nie eintlik wil sien
nie en hy antwoord net: “Dit was amper. Op ‘n stadium het ons na mekaar gekyk
en ek het begin wonder of dit nou dit was.” Ek los hom toe maar daar met sy
gedagtes terwyl hy wag vir Dinsdag. (Dinsdag is maar ‘n steeks donkie en die drywer
wat die bakkie sou bring was nie bekend met al Dinsdag se streke nie: blykbaar met
Dinsdag moet jy liefs altyd teen ‘n afdraend stop.
Marthinus het
oorleef, maar ek dink nie hy is baie lus om weer die canyon so te gaan hardloop
nie. Ek het wel onlangs verneem hy het uit versigtigheid toe wel sy stokies geruil
het vir oordentelike skoene voor hulle van die roete afgewyk het (dit was ‘n varsgegomde paar en dus was hy nie seker van
hulle nie), maar hy sê “dit was onnodig, daai stokies loop vandag nog!”. Dalk
vat hy hulle binnekort deur daai stokies hele canyon ...
No comments:
Post a Comment