Uit die argiewe: geskryf vir die defunct willeklong.co.za, Januarie 2010
Die artikel het ek in my kop geskryf oor vyf lang ure. Ek moes net iets kry om aan te dink, om my
aandag bietjie af te trek van die ongemak wat deur my kop gedonder het. Dit was soos ‘n suidoostewind wat waai asof
dit ons almal in die see wil waai. Maar
soos die wind, kon ek nie regtig van die ongemak skuil nie, dus kon ek nie te
ver van die onderwerp afdwaal nie.
Dis die Desert Dash 2009, skof 3 van 4, 187km van 340km al
gery. Toe besluit ek ek is klaar, want
vir die afgelope 150km het ek al gevoel of ek wil dood en ek sien nie kans vir nog 150km
daarvan nie. Dit was nie maklike besluit
nie, dit was die eerste maal dat ek ‘n fisiese uitdaging nie klaar maak nie. Die vorige kere wat dinge verkeerd geloop het
was dit nie maklik om klaar te maak nie, maar hierdie keer het hy my in ‘n hoek:
ek het nie meer keer in my nie en die houe het ongenaakbaar bly val. En toe lê ek daar, in die louwarm Namibiese
na-nag, platgeslaan, met slegs die gedagte: “As jy nie iets doen om te wen nie,
hoekom doen jy dit dan?”
By die brug oor die Kuisebrivier: in my tjops en min lus vir die lewe. |
Ek dink in almal se moderne lewens is daar groot stukke grys
areas. Die wit en die swart is gereligeer
tot die periferie van die lewe. Behalwe
vir die fanatici (van enige aard), die dronkes en die wat nie meer wil dink nie. Daar is nie meer globale regte antwoorde
nie. Ja ons almal weet wat reg is en wat
verkeerd is, daarvoor is daar genoeg landswette. Wette gaan ongelukkig nie oor waarheid
nie. Waarheid is iets wat elkeen vir
onsself moet gaan soek. Ek dink ons is
almal te gemaklik, ons hoef nie meer te oorleef nie. En dus hoef ons nie meer instinktiewe, nou-of-nooit
besluite te neem nie. Mens kan meeste besluite
verander of omseil. “... ek wil nie meer
dit of dat koop nie...ek kan
dit mos binne ‘n week teruggee? ... nee, nee daar is niks fout met die produk
nie ... ek het bloot anders besluit...”
Dis hoekom ek eintlik bly is oor die nag in die Namib
woestyn. Toe ek nie meer kon nie. Ek moes ‘n besluit neem. Na alle kante toe was nie lekker opsies
nie. Of ek ry aan, wees vir nog 150km
naar met ‘n maag wat 17km te vore dolleeg gemaak is (en ek kon nie veel intussen
inkry nie). Of stop dit hier; live to
fight another day. Moet wel dan aan
almal verduidelik hoekom ek dit nie gemaak het nie. Loss of face moet verduur (al is dit net in
my kop). Probeer dinge rasionaliseer,
dit was nie my dag nie - soos ‘n vriend sê:
Op die dag kan Bangladesh kan die Proteas klop. Maar my selfvertroue het wel ‘n knak
gevat. Wat as dit weer gebeur – hoe gaan
ek dan reageer? Ek weet nie hoe ek sal
reageer nie, maar ek sal die gevoel herken wanneer ek weer daar kom. En omdat ek weet wat aan altwee kante van die
besluit lê glo ek ek sal dit beter kan
hanteer. So word nog ‘n lewenseksamen
afgelê. Die uitslag maak nie saak nie,
net die ervaring wat nuut verkry is.
Na so ‘n ervaring is die grysareas ewe skielik in die
alledaagse kleiner. Ek is gefokus op dit
wat belangrik is. So word die swart en
die wit van mekaar geskei. Met die tyd
saam sal die grys weer groei. Dan sal ek
weet dis tyd om uit te vind hoe dit voel om die einde van my kragte te bereik
en voor die keuse van aangaan of ophou te staan. Al gaan ons miskien nie om te wen nie,
behoort daar in alles wat ons doen ‘n stukkie oorwinning te wees.
Gaan koop vir jou ‘n bicycle, ek sal saam met jou gaan ry.
No comments:
Post a Comment