Wednesday 21 June 2017

Visrivier Canyon Ultra 2017

Hi. Oom Gerhard vra of jy belangstel om volgende jaar canyon te hardloop...
Ek stel belang ja.

‘n Whatsapp van my broer einde laasjaar. Gerhard de Kock is sy baas en sy tafeldruiwesaak is Cape Orchard Company (COC). COC het ook plase by Aussenkehr in Namibië. In 2013 het ek deelgeneem aan die Visrivier Canyon Ultra se 65 km “Lite” en daar was ‘n paar haastige manne van Aussenkehr ook by. Antonie van Heerden was die plaasbestuurder op Aussenkehr en hy het gereeld van sy werkers op aktiewe uitstappies geneem en die Visrivier was maar net een van hulle. Dus was daar geskiedenis van COC mense in die canyon.

Ek het verskillende stories gehoor van hoe dit gekom het dat die vraag laasjaar aan my (en ander) gerig is. Die een was dat die manne van Aussenkehr vir oom Gerhard gevra het “of ons volgende jaar weer gaan hardloop”. Die ander is dat hy ‘n rede gesoek het om homself en paar ander in die maatskappy uit te daag om te werk aan hulle gewig/fiksheid. Hoe dit ook al sy, toe die inskrywings oopmaak staan daar ‘n hele bondel van COC se werknemers, asook aanhangsels (soos ek), gereed. (Ek verstaan dié Visrivier, of sommer net die “canyon”, uitstappie was die plaasvervanger vir die jaarlikse kantooruitstappie... )

Die canyon. 📷Niel Fyfer
Die canyon Whatsapp groepie het behoorlik gegons en die gevolg daarvan was dat daar die aand voor die wedloop 34 atlete (uit ‘n veld van so 100) van COC ingeklok het by die race village by die Swaelbronne se uitkykpunt. Ondersteuningspan en als.

Die race village. 📷 African Extreme Promotions se Facebook page

Vanaf die bean bags op die rand van die afgrond het ons die hoofborg se produk geniet terwyl ons nonchalant (probeer) strategie gesels en die kaart (weereens) bestudeer word. Kort-kort was daar ‘n stilte in die geselskap en dan staar jy na die rustigheid van die canyon daar onder en probeer die onstuimigheid binne jou beheer. Ek het myself telkemale gevang dink aan waar ek môre die tyd sal wees en ook met effense onrustigheid waargeneem hoe vinnig die son sak. Later het die organiseerder die finale reëlings deurgegee en al wat ek kon onthou is dat as jy in die paadjie gaan sit sal die sweepers jou wel kry. En ook dat die polisiehelikopter in Windhoek op roep is...

Na stewige braaivleis aandete het almal gaan inkruip. Die wat kon, het geslaap tot ongeveer middernag. Daarna het die rukwinde die tente laat flap tot almal in die donker gelê het met net hulle eie gedagtes. Die 100 km het 05:30 (Nam tyd) weggespring en die 65 km ‘n uur later. Ten spyte van die geen-slaap-vroeg-opstaan meld ek aan by die begin met minder as dertig sek voor die skoot klap. Toe hardloop ek maar agter vir die eerste 10 km (was nie te slegte plan nie).

Die 65 km COC span. 📷 Gerald Dark
Die COC 65 km span het meer georganiseerd weggekom en teen die tyd wat ek by hulle afgaanpunt gekom het was daar net spore oor. En ek moes nogals ‘n hele tydjie wag voor ek meer as spore gekry het. Eerstens het ek oom Gerhard se span gekry. Ek het oor ‘n shortcut gekom en het nie direk by hulle verby gegaan nie, maar die spulletjie so op ‘n afstand dopgehou. Oom Gerhard kop af met ‘n baie vasberade kyk op sy gesig. Die dokter saam met hom het my gesê daar is nog 55 km oor. Ek het net teruggewaai en gedink ek moet liewer nie aan afstand dink nie. Daarna het ek ‘n baie jolly span raakgeloop met onder andere oom Tom in die pakkie. Oom Tom is amper 75. Altwee sy knieë het gebloei op ‘n stadium, maar hy het bly kom. Hulle het almal vir my kos aangebied en ek moet erken die Aussenkehr dadel was nogal die regte ding op die regte tyd.

Die 65 km se afgaanroete. 📷Arjan de Kock
Oor die volgende shortcut kry ek ander twee deelnemers, ‘n oom en sy dogter (kleindogter?). Baie vriendelik en vol gees. Duidelik ken die oom die canyon soos die palm van sy hand, want na hy my water gegee het was al wat ek kon aanbied ‘n bevestiging van die pad. Toe verduidelik hy vir my hy ken “die draai, hou links tot amper by die vaalbos en dan oor die rivier na die (Rosyntjiebos) shortcut”. 
Oom Tom  📷Charl Hugo
By dié shortcut aangekom vra die beamptes vreeslik omverskoning dat hulle net Coke Lite het. Dit was beter as niks! Maar hulle belowe my by die bakkie op die nek by die Viervingers is daar ‘n coolbox en ek “moet maar kyk wat daar is”. Daar gekom wag koue bier, water en Steri Stumpies op ons. Ek het nog nooit ‘n Cream Soda Stumpie so vinnig en so lekker na onder gestuur nie.

Die getjommel vanaf Von Trotha se graf tot by Kochasdrif het darem nie te lank aangehou nie. By Kochasdrif was daar omtrent ‘n partytjie aan die gang. Die COC ondersteuningspan het nie gediskrimineer nie: daar is wors, steak, aartappels, Coke, piesangs en what not alles aangedra. Tannie Ditta bring my ook op hoogte van hoe almal vorder terwyl ek my mond volprop en ander helpers my water volmaak en nog kos aandra. Sy vra na oom Gerhard en ek sê die oom kom “baie gedetermineerd aan”. Tannie Ditta sê net “ja wat, hy sal gedetermineerd wees tot hy omkap” (of so iets). Terwyl ek sit het ek maar my liggie uitgepluk, want dit sou nog nag raak.

Op die hoogte na Kochas vang ek klomp van die COC span se dames. Hulle lyk goed en ek maak my uit die voete want die wind was van voor en die dag was al lank (en warm, ek het amper 34 gemeet op ‘n kol). Op die groot sandvlakte waar jy die eerste maal weer vir Spieëlberg sien (en weet die huis is nie te ver nie) kry ek die De Villierse. Tanya was al ‘n hele paar weke swanger toe sy reeds in is vir die ding. Sy het gestraal en was vol stories, maar vir haar en Christiaan los ek ook maar daar, want ek het nog probeer om die laaste daglig te jaag.

Paar draaie en paar manne met stywe bene wat swaai-swaai loop later was dit donker in die canyon. Die volmaan moes nog kom, so vir eers was dit goed donker. Gelukkig kon ek die stapperspore heel maklik kry en volg. Ver links en ver regs het ek liggies gesien en ek kon net hoop hulle het die pad. Die ander ding wat ek van die race briefing onthou het, was dat dit beter is om die lig in jou hand te hou as op jou kop (dan is die spore in die sand baie duideliker).

Die canyon was stil met net my eie asemhaling en die gesuis van die sand onder my voete vir geselskap. Eensklaps ruk ek soos ek skrik want daar het ‘n kreet deur die canyon weergalm opgevolg deur ‘n ander stem wat skree “waar is die pad?!?”

“Links! Kom links!” Het ek geantwoord ek en skyn na die stemme se kant toe. Ek stap toe maar aan, want ek wil ook by die huis kom.

“Hey! HEY! Waar gaan jy!?!” (Dit was die woorde, maar die betekenis was: “Staan stil of ek $%@# jou!”.) Ek stop en skyn in ‘n boom in dat hulle kan pyl.

“Wie is jy?!?”

“Coos!”

“O, Coos!?! COOS!! Wag asseblief Coos, moet ons nie los in die #$%%*& plek nie! Asseblief, Coos!”

Daar kom Jono en Anlo aangestryk. Hulle was gatvol gesukkel: GPS batterye dood en hulle eie batterye ook pap. Ons klap die laaste bietjie toon saam. Dit het heelwat konsentrasie geneem, want die pad hou totaal te lank aan vir ons almal. Dan eensklaps doem die damwal voor jou op. Oor dit sien jy die ligte van die eindstreep en ons het geweet die huis is naby.

Anlo, Jono en ek. Klaar en klaar. 📷Paul Joubert
Ongelukkig het nie almal van COC die eindstreep gehaal nie, maar reeds daai aand was daar gesê hulle sal terug wees. COC het die vure hoog laat brand tot die laaste deelnemers by die huis was en die res al geslaap het.

Die volgende oggend gesels ek met oom Gerhard. Hy is duidelik passievol oor die maatskappy en verduidelik dat hulle die vriendskapsmodel volg: mense moet met mekaar kan praat en die bande wat mens bou is meer as net om salaris te kan trek teen einde van die maand (my intepretasie). Dit staan duidelik uit in die groep mense. Die ander ding wat ek opgelet het was dat hulle  mense is wat weet hulle bestaan is nie net in hulle eie hande nie, maar saamwerk en planne maak is nodig as die weer of omstandighede nie saamspeel nie. Dit maak die spul ‘n gemoedelike klomp wat die rukke en stote van ‘n hele dag se uitdaag op ongenaakbare terrein gelate te aanvaar en eintlik te geniet (“ons het mos gekies om hier te wees”). EN rolle duct tape saamdra, want hulle weet iewers sal plan gemaak moet word en vir planne is daar niks soos Amerikaanse bloudraad nie.

Ons kan maar weer gaan.



No comments:

Post a Comment

Lekhubu-eiland en Tuli-blok gedurende die reënseisoen

Dit is tans nie min warm in Botswana nie. Lae tot middel 30'C deur die dag. Snags koel dit nie veel af nie: 08:00 die oggend is dit ree...