Saul Barnard, die hoofkarakter in Dalene
Matthee se Kringe in die Bos, het
goud gepan in die Meulbos naby Knysna. Hy het ook vermoed
die Engelse apteker op Knysna verneuk hom as hy sy goud aan hom verkoop. Dus het hy George toe geloop om sy goud daar te
gaan verkoop. Die vraag is nie hoe ver George
van Knysna af is nie... die vraag is jy so hard soos Saul Barnard?
Die roete. |
Ek en Hamman het gedink ons is so hard soos
Saul. Ons het rugsakke gepak en is aan die voet van die Phantompas afgelaai op
‘n koel dag een Desember. Saul het die
bospaadjies geken, hy kon die weer lees en hy het geweet waar hy is en waarheen
hy oppad is.
Ons het nie eintlik ‘n idee gehad nie en
bloot die teerpad oor Phantom Pass gevolg tot dit grond geraak is. Daar het dit
begin reën. Die pad was lank en hard. Te lank en te hard. Daar waar dit weer
teer geraak het ons besluit ons voete is te seer en ons is te moeg. Saul was
definitief harder en ons is druipstert huistoe.
Die hedendaagse Saul sou sekerlik in
Rheenendal gebly het, want dis die naaste dorpie aan ou Millwood myn. As hy moes stap George toe sou hy sekerlik
dit padlangs gedoen het: dan is daar darem ‘n kans om ‘n geleentheid saam met
‘n verbygaande boer of vakansieganger te kry. Maar nie baie mense ry meer die kronkelende
agterpad, wat bekend staan as die Sewe Passe pad, tussen George en Knysna nie. Tegnies is dit nie sewe passe nie, maar agt
passe... besoek gerus die webwerf.
Ek het besluit om Saul na te doen dit
sekerlik voldoende sal wees om die roete net in een rigting af te lê: hy het
darem nie in een dag soontoe en terug geloop nie. Logisties gewys is dit seker
eenvoudiger om van George Rheenendal toe te loop. Die afstand is 60 km met ‘n
totale vertikale styging van ongeveer 1400 m.
Die klowe wissel van koel inheemse woude tot meer oop plantasies, dus is
die rigting sekerlik afhanklik van jou voorkeur vir die tipe terrein wat jy wil
afgelê in die oggendkoelte.
Vanaf George loop die roete deur die
Zwartrivierhoogtepas en verby Saasveld landboukollege. Na Saasveld sak dit deur die klowe van die Kaaimans
en Silwerrivier. Elk van die klowe is oor die 100m diep en onder kruis ‘n brug
vroeg uit die vorige eeu die rivier. Die hange is bedek met die tipe bos waarin
Saul homself sou tuis vind.
Reeds vroeg in die dag het ek besluit ek
sal die opdraandes uitstap en die res draf soos ek voel en kan. Na die Silwerrivier klim die roete uit op ‘n
vlakte (Wildernishoogte) en loop met boomryke lanings deur plase en
kleinhoewes. Na ‘n paar kilos kronkel die pad af na die Touwrivier met sy
staalbrug in plaas van beton soos die vorige brûe. Na die Touwriver klim die roete op na ‘n besige
teerpad vanaf Wildernis. Die pad het nie
‘n skouer nie, dus was dit nie baie lekker om daar te draf nie. Die motors jaag genadeloos op daardie
pad. Gelukkig verskyn ‘n skouer, of ten
minste iets waarop jy kan draf, nie te ver af in die pad nie. Hierdie stuk pad is omring deur oop velde en
dit is jy, die pad, en die son (en elke nou en dan ‘n kar wat TE hard gery
word).
Die teerpad hou aan met lang reguit stukke
oor die Dieprivier met sy moderne brug wat die noodsaaklikheid van afsak in ‘n
kloof onnodig maak. Al sou die kloof ‘n
welkome lafenis teen die monotoon van die warm teerpad gebied het.
My mikpunt was Karatara. Daar is ‘n kafee en ek beplan om daar goed af
te saal. Ongelukkig is dit is nog 12 km af
in die pad met die Hoogekraalrivier tussen my en die 1,5l Coke wat ek myself al
sedert die onaangename nou teerpad beloof het.
Hoogekraal is formidabel. Voor ek afsak rivier toe, kry die teerpad sy
ry Ruigtevlei toe (Sedgefield se wêreld).
Die spilpunte tik-tik in die lande, maar net buite bereik van die pad. In die hitte is daar nie eens ‘n windjie wat
van die sproei my kant toe waai nie. Die
son bak en die hitte slaan met die stof uit die pad - dis immers die middel van Desember. My motivering was laag, maar ek druk maar
deur, want ek is in die middel van nêrens en dit sal ‘n lang wag wees as ek
hier langs die pad gaan sit. So begin
die sielkundige speletjies in alle erns. ‘n Amperse moedbreker is dat die pad tot op
die hoogste punt styg voor die padgode jou toelaat om af te sak na die rivier –
vandaar die naam Hoogekraal.
Stamperig af met die pas van 1882, oor die
mooi ou sementbrug en weer stamperig anderkant uit. Karatara is nog 7km aan en selfs die gelykpad
raak nou moeite om te draf. Soos alles
in die lewe gaan die 7km ook met tyd verby, as jy net aanhou beweeg.
Ek strompel uiteindelik by die Highland
Home kafee in by Karatara. Die dame
agter die toonbank wil weet hoe ek daar gekom het, maar ek is nie lus vir
verduidelik, of om op daardie stadium aan die ontvangkant van die “jy is
bedonnerd”-kyk te wees nie. Dus lag en
knik ek net toe sy vra of ek fiets gery het.
Onder die koelte van die boom voor die kafee se deur het ek ‘n overpriced
Golden Delicious appel en die laaaang beloofde Coke geniet asof daar nie meer
Coke in die wêreld oor is nie.
"Barrington" |
Die laaste 12km sluit twee passe in: die
Karatarapas oor die Karatararivier, net buite Karatara en die Homtinipas kort
voor Rheenendal. Tussen-in lê oop lande in die omgewing van Barrington (al
bestaan Barrington nie op ‘n kaart nie, is daar wel ‘n kwekery). Na Barrington, waar die teerpad wegdraai N2
toe, is jy in ‘n wêreld waar niemand kom tensy hulle daarheen oppad is nie. Die pad skuif stadig onder my voete verby,
maar die einde is in sig. Dit het my ‘n oomblik gegee om te reflekteer op Saul
en die mense van die gedeelte van dié wêreld: die wat naby aan die beskawing
bly, maar tog kies om eenkant hulle ding te doen. Of dis in elk geval die
gevoel wat ek gekry het.
Die afsak na die Homtini is warm en steil
en sou die laaste spyker in my kis gewees het as dit nie was dat ek geweet het
die einde lê net anderkant die bult nie. Rheenendal self is ‘n versameling van ‘n paar
huisies met ‘n kerk en skool. Ek skuifel deur die dorp. Net buite die dorp lê die eindpunt: Totties,
vernoem na die matriag van die Van Rheenen familie (wat die saagmeule in die
omgewing bedryf het). By Totties is ook
die afdraai na die Meulbos en ek kon nie anders as om my spreekwoordelike hoed te lig in
erkenning van Saul nie.
Die pad is hard, maar Saul is harder.
Totties by Rheenendal. |