Uit die argief
Naand
vrinne. Hier in die Kaal Harrie, hoor mens baie stories. Soos die ene wat ek
nou die dag gehoor het. Ek sit op die
stoep hier by Geelperd, soos deesdae maar my gewoonte is, en voel die wind in
my gesig. Die draadloos staan en gesels een kant soos sy manier ook is. Toe kom daar die klomp terroriste (of was dit toeriste?!?) op die lug oor die draadloos: as die wind oor die duine se
kant kom dan waai dit mos allerhande dinge op Geelperd aan...
By tye het
die ontvangs, soos die reën, bietjie gelol, maar wat ek kon aflei is dat hulle
so twaalf stuks bymekaar was. Eerstens was daar Oupa wat blykbaar soos ‘n
tuindwergie lyk as dit koud is. Hy is blykbaar die oudste seun. El Ché was die leier, maar sy praat nie so baie
nie. Dan was daar Goe-waan, seker ‘n
likkewaan en ook Lei-da – seker soos die tuin natmaak? Koos, soos die pp pot en
Sanobus, blykbaar is sy vernoem na haar eerste kind. Dan kom Peat Man, wat so deur sy ouma vernoem
is. Saam met hom het Maer Lies gery, in 'n wa wat vir my geklink het soos die skapie wat nou die dag nie die lorrie slagpale toe
gehaal het nie. Ook ‘n Sakkie, want soos
ek verneem het hy net ‘n streepsak nodig. Hy het gekuier met Castrol, want daar
is net een tipe karolie in die Kaal Harrie.
Castrol, nie kistrol nie, want laasgenoemde hoort net in die kombuis. Die agterhoede word gedek deur Jaws, want
niemand sê die “r” nie en Karlene – dit moet ‘n nuwe produk wees wat nog nie by
ons Askham se korporasie beskikbaar is nie: ek ken net Windowlene en dis nie
vir karre nie.
Die spul ry
ses bakkies vol. Meeste darem die ordentlike Japanese soort, wat goed regkom in
die Kaal Harrie. Daar was wel twee
waaroor ek gewonder het of hulle dit gaan deurhaal, want dit klink my hulle
gaan die hele plek vol ry, selfs oor die grens in Bots Tswana in (die paaie is
nie altyd die beste nie en die mense daar ry maar snaaks). Nogals oor die grens
in die dag en aangemeld: nie soos ek altyd oor is met Dinsdag nie. Vir die wat nie weet nie, Dinsdag is my
getroue ryding, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Die terroriste val Kaal Harrie in by Twee
Rivieren en kuier daarna Nossob toe. Daar
los hulle blykbaar een van die bakkies (is hulle bang dit kom nie die mas op
nie?) en kies koers reg Oos vir twee dae tot by Ma-bo-ha-se-hoebie (Mabuasehube)
se panne. Daar staan hulle vir drie
nagte waarna hulle rustig terug na Nossob toe. So nege dae later spat die spul weer
uitmekaar, elkeen terug na sy eie plek.
Behalwe Jaws
en Karlene het almal uit die Kaap gery en op Ken Hard oorgestaan. Oupa en Likkewaan se bakkies was nie juis
haastig nie, so hulle het teerpad langs gekom. Die ander twee het met full body, including
back and roof, mud treatment deur Botterkloofpas gekom. (Ek hoor die vrouens praat van modder treatments
in die dokter se spreekkamer, hulle kan maar netsowel Geelperd toe kom na die
reëns, hier is baie dan, ipv om Kaap toe te gaan.) So op Harde Ken en Sagte Lip moes Bedpan en
Sakkie eers hulle bakkies skoon gemaak het, want Kaal Harrie het sekerlik nie
nog grond nodig nie.
Na Harde
Baard is hulle Aapingtin toe. Omdat die tannie deesdae in beheer is van
reisreëlings stop ons nou ook met Dinsdag op Saterdae by die Kaal Harrie mol in
plaas van die koöperasie. Elke keer wat
ek en die tannie daar kom, wonder ek hoekom hulle die plek ‘n mol noem... dit
staan dan bo die grond?!?
Daar was
groot opgewondenheid die dag by die mol, want Tjiff en Tjaff en die hele
kontrei se verveelde vaders met huilende kinders was daar. Gelukkig het die klomp die terroriste nie te
veel gepla nie, want hulle het nie kjinners nie. Soos terroriste wel betaam val hulle daar in
die mol ‘n bord kos aan. Seker omdat
hulle solank moes wag. Darem kom hul bakkies (en mae) en die bakkies vol en daar trek hulle weer.
Askham deur
stoot die bakkies met die sensitiewe pad wat so al op die grens langs tot by
Twee Rivieren loop. Jaws en Karlene
sluit daar by hulle aan, al die pad gewaai van Windhoek af. Daai aand beledig hulle behoorlik die Kaal
Harrie met hulle steaks wat hulle van die Kaap gery het: asof daar nie vleis in
Kaal Harrie is nie. Slap tjips word gebak en ‘n ma-otterse slaai in ‘n opwasskottel
aanmekaar geslaan (dit was die meeste groen saam gesien in Kaal Harrie sedert
Januarie se reën). Karlene was ook heel fênsie en bak sjoklitkoek in 'n gat vir Peat Man
se verjaarsdag.
|
Twee Rivieren |
Die
oggendluggie was baie fris die volgende môre so hulle was nie so vreeslik
haastig met die wegtrek slag nie. El Ché en Oupa skud-skud reguit Nossob toe en
die res volg met ‘n draai. Dit klink my die twee (Bedpan en Sanobus) wat in die
verkeerde tipe Japsneese bakkie ry (in Kaal Harrie is daar net een regte bakkie
en dit is ‘n wit Toyota Hilux soos Dinsdag... of geel as dit moet) was nie so
vinnig uit die blokke nie, want hulle pak die hele kar af net om aan die gang
te kom. Hulle slaap darem op ‘n lekker
dik matras. Ek verstaan die uitpakkery
is omdat die kappie omgebou is om die vollengte matras met gemak te neem. Ek
vermoed die eienaar van hierdie groente lorrie wil nie bo-op sy dak slaap soos
die res nie: hy soek ‘n staaldak, soos in die army, teen ander terroriste aan- of invalle.
So van die
army gepraat... die kjênners ry toe juis verby die boorgate wat die einste army
al langs die ou Unie se grens gegraaf het. Die boorgate is by die draai van die vorige eeu geboor
sodat die Unie troepe die Duisters in Suidwes kon gaan timmer. Seker met waterbomme. Ek onthou dit goed want ekself het toe al
tanne gehad en die draadloos het nog Hoog Hollands gespeel (blykbaar was die
moeilikheid juis dat die Duisters die draadloos na Duits wou verander). By een van die boorgate, Auctherlochte, kan
vandag se mense sien hoe ons ou mense ons omgesukkel het in die Kaal Harrie.
So entjie af
in die pad van Auchterlochte het ‘n springbokram bo-op ‘n duin gestaan. Die outjie staan en kyk vir ‘n jagjakkals wat
take away gemaak het van een van sy maatjies. Smaak my kat se kind het nie baie
moeite met daai ene gehad nie en dié het sommer daar langs die pad gelê. Die span skud later in by Urikaas stop om self
iets te hap. Blykbaar was Maer Lies se dikkefrelle en Castrollie se
suurlemoenkoekies nogals ‘n treffer.
By Nossob
kamp word styf laer getrek want dit lyk of dit ‘n koel aand gaan wees. Daar het
hulle wors met smoor, gestoofde
vrugte en vla, asook ‘n paar ander goeters weggeslaan om die koue te verdryf.
Dit was die terroriste se tweede nag in Kaal Harrie en ‘n ou
maanhaar het sy stem dik gemaak om hulle weereens welkom te heet hier in die
land van sand.
Die volgende oggend soos ek myself tuismaak op Geelperd
se stoep met my koppie eerste beste van die dag het ek geglimlag toe ek hoor dat
die klomp waaragtig dink die gras in Kaal Harrie is groener net omdat dit aan
die anderkant van die grens is. Nou hulle kom baie ver om teleurgestel te word
want die tyd van die jaar is die gras orals ewe geel.
Hier in die R van SA se Kaal Harrie lê die duine soos
golwe op die see van die groot uitspansel. Om by Ma-bo-ha-se-hoebie, daar diep in Bots Tswana,
uit te kom moet hulle eers een hele dag lank dobber deur 'n deel van die Kgalagadi. Daar agter kom hulle in ‘n anderster tipe Kaal
Harrie, die ene van panne en groter bome: die duine is soos die kabbels in die
vlak water en hoe dieper jy ingaan hoe stiller word dit omdat die water in die panne gaan lê het. Party van die panne is
kilometers groot en soos hulle deur die bosse gebeur het, word hulle telkemale
verras met ‘n skielike uitbarsting van ‘n pan. Maar ek was nou bietjie haastig en loop
die dae vooruit. Eers moet hulle dáár kom.
Dinsdag sal maklik in een dag van Nossob tot by die groot
pan van Ma-se-hoebie loop. Die parkeraad
wil wel nie hê die terroriste moet so ver kom en dan nie die plek behoorlik
bekyk nie. So as jy Ma-se-hoebie toe ry dan moet mens eers oppad bietjie
uitspan. Die spul het gekies om dit by Matopi
II te doen. En dis ‘n luukse kamp daai
want daar is ‘n longdrop ... en die kamp is aangedui met ‘n bordjie. Ongelukkig het die stadiger ry hulle nie
vreeslik baie gehelp nie, want al is die gras nou wel nie baie groen nie, was
dit te lank. Dus loop die diere in die
bosse eerder as by die panne. Want as
die terroriste weet waar om die diere te kry dan weet al die gediertes met lang
tanne ook waar om hulle te kry.
|
Matopi II |
|
Karolie en Maer Lies |
|
Maer Lies, Peat man en Sanobus |
Daai aand jaag ‘n nuuskierige springhaas met sy groen oë
vir Sanobus skrik op die lyf. Dit was darem nie die grootste opwinding vir die
aand nie, want Goe-wannie en Lei Daar se nat jos was ‘n treffer. Nie dat ek weet wat ‘n jos is nie en hoekom jy
dit noodwendig nat wil hê nie...
Een ding wat die Kaal Harrie terroriste baie gou aan
herinner is, is dat die Kaal Harrie, toe alles aanmekaar geslaan is, eers sy sand
gekry het en net daarna die sinkplate. Nie
die dak tipe nie, die grond tipe! Gelukkig
sukkel Dinsdag en die ander regte tipe bakkies nie te veel daarmee nie, maar
die groente lorrie wen homself op soos ‘n bronstige volstruis. Soos met ‘n volstruismannetjie moet jy jou
keer ken en beheer kry, want anders kan die ding vinnig handuitruk. Die handuitrukpunt is wanneer die groentelorrie
so begin hop dat die agtervolgers die onderstel begin sien. Alles het darem teen die matras in die dak vasgehop,
so daar was nooit groot skade nie. Die
sinkplaat is die nalatenskap van die vorige spanne terroriste wat die aanloop
tot die duine uitry. Maar dit kan ook
nie anders nie, want as die duin te stadig geklim word dan maak die spanne dit
nie tot bo nie en grawe die sinkplate net dieper. So dit gaan maar hop-hop en skud-skud verby
die kleiner panne tot by Ma-se-hoebie se groot pan.
Vir middagete kamp die terroriste (hulle is
dan terroriste) in ander man se kampplek met ‘n lekker koelte bome. Die outjies
het darem heel georganiseer geklink vir klomp stadsjapies en elke aandete het ‘n
ander bakkie ‘n beurt gekry sonder dat dit ‘n “koek of” raak. Middagete was elke
man, vrou en bakkie se eie probleem.
Na middagete het hulle oor gesuiker na hulle eie persoonlike
kampplek vir die volgende paar dae. Dit was op ‘n randjie langs met hulle eie
uitkykpunt vanwaar hulle die depressed blouwildebees wat so alleen op die pan
staan dag en nag kan besigtig. Hulle het mooi laer getrek om die vuurmaakplek,
maar nie die laer toegespan nie. Seker sodat van die bakkies nog kon ontsnap as
daar ‘n inval plaas vind of iemand ‘n draai wil gaan ry. Vir die wat ‘n draai
wil loop het Peat Man ‘n chemiese koos georganiseer. Daar is ewe ‘n
hessingseiltjie gespan om die kuierkamertjie volledig te maak sonder om die uitsig
vanaf die koos te belemmer. Om verder
almal se privaatheid te bevorder slaan hulle ook ‘n stoor-/aantrekkamertentjie op.
Daardie eerste aand by die basiskamp het die ander Koos
en Sanobus pasta en pannekoeke aanmekaar geslaan. Soos hulle na ete rustig
geraak het kondig Jaws aan hy gaan gou by koos kuier. So paar minute later vra Pietman
verontwaardig wat Jaws daar in die kuierkamer maak, want dit klink vir hom of
hy besig is om daar te grou en grom. Jaws het geantwoord, uit ‘n heel ander rigting
as die kuierkamer, dat hy nie verstaan wat Peatman nou bedoel nie. Onmiddellik
sak daar die strale van sewe flitsligte op die kuierkamer neer. Almal vermoed hulle sien iets, maar dis Koos
wat van die kant af skyn wat eers die lang stert wat agter die hessiënseiltjie
uitsteek, sien. En toe loer die lui
kietsiekat ewe fraai om die hoek van die seiltjie. Karlene
was die verstandigste van die lot en soek onmiddellik skuiling in die daktent.
Oupa het die minste verstand en wil sommer nader stap om die kietsie met die
hand te gaan groet. Die kietsie het nie van die aandag gehou nie en het so paar
maal in die rondte gedraai en ewe kalm terug bos toe gestap. Oupa het onmiddellik ondersoek ingestel. Al
wat hy gevind het was ‘n gehapte rol wit goud en dié word triomfantlik vertoon
en gefotografeer. Daarna was daar weer semi rustigheid. Na dese wonder ek by
myself waarmee Jaws nou die kieter in die eerste plek gelok het na die
kuierkamer…
|
Kampplek by die pan |
Die volgende môre was die spulletjie maar traag om op die
lug te kom, want die son was nie sterk genoeg om hulle uit te braai nie. Soos
gewoonlik is Jaws en Karlene nog die langste in die tent en bedel koffie by
iemand wat reeds onder besig was. Hulle
is nogals goed daarmee en kry goeie resultate.
Die plan vir die dag was om ‘n draai te gaan ry en iewers te brunch. So word
Oupa se cruiser en Jaws en Gwoe-haan se double cabs opgepak vir vervoer sodat
die ander bakkies kan bly waar hulle is. Die kamp word ook reggesit vir
moontlike besoekers en daar gaan hulle.
Toe die brunch plek eers gevind is, iewers tussen Malatso
en Mogobewatihangwe pan, het Karlene voorgevat met haar familieresep en ‘n
baie lekker brunch aanmekaar geslaan. Dit ten spyte daarvan dat sy nie so lekker
gevoel het nie. Vir party was dit ‘n
koelerige waggie vir die kos en dit het hulle nie vreeslik beïndruk nie. Dit
terwyl ander nog kaalvoet in t-hemde rondgeloop het.
|
Brunch |
|
Die wag raak te veel... |
|
en iemand kry koud. |
Terug by
hulle kamp was daar ongelukkig geen besoekers nie. Toe sit en lê hulle maar
rond en wag om weer te eet, soos ’n bederfde Jack Russel. Paar het darem gestap om die sonsondergang oor
die pan te gaan kyk. Vir aandete het Peat
Man en Maer Lies vetkoek en mince gemaak vir die vet koeke. Na ete is geen insidente aangemeld nie en
almal het rustig gaan slaap. Vir so paar uur.
In die
middel van die nag word die kamp omtrent gewek deur iemand wat ‘n ysterpot
slaan. Hulle ontdek nie ander terroriste
nie, maar ‘n bruin hiëna wat die olie so uit die pot lek dat die
handvatsel teen die pot klap. Dit was
nie ‘n mooi gesig nie, want daai harige goed lyk soos iets wat jou in ‘n
nagmerrie met rooi oë sal jaag en jou nie sal vang nie maar net so agter jou
hakskene hap. Gelukkig was die harige
monsters ‘n paar papgatte en toe daar ligte op hulle geskyn word, vat hulle die
pad. Vir die res van die nag was daar
darem nie enige verdere opwinding nie, want die pot word toe mooi in die kar
gebêre. Die volgende oggend moes Castrol, wat die prime seat bo-op die cruiser
se dak gehad het, die storie van die nag se gebeure ‘n paar maal herhaal: Eers
het die jakkalse blykbaar kom kuier. Hulle word verwilder deur die hiënas wat
toe partytjie hou dat die res wakker word. Nog later die oggend moes die spul skattejag hou
om die deksel van die pot te soek wat die bos ingedra is.
Na alle
toerustig weer op hulle plek (en vas) was het die spul weer ‘n draai gaan ry om
te gaan eet, want hulle vorige ekskursies het nie veel ten opsige van sien
opgelewer nie. Verby die Lesholoago pan, waar hulle berig kry van luiperde in
die vlak gras en hiënas wat die kampers daar ook gepla het. Van dié was daar ongelukkig net stories
oor. Oppad na Monamodi pan word kos
aanmekaar geslaan. Die keer het Peat Man en Maer Lies weer ingespring vir
fênsie frens toust en varkspekkie.
By die hoofhek
het hulle water gaan haal om die stortjie wat Jaws en Karlene saam gery het die kans te gee om almal min of meer skoon
te kry die aand. Oppad terug by die Mpathutiwa pan kry die klein diertjies en
die voëltjies eers aandag. Meerkatte en grondeekhorings staan volop toe op die rand
van die pan.
Hulle kyk dikwels op omdat daar bo hulle koppe ‘n hele klomp
roofvoëls draai. Daar word nader gery na
waar die aasvoëls draai, want daar mag dalk ‘n karkas van ‘n aard wees. Met nadere inspeksie was daar geen karkas nie,
net omtrent dertig aasvoëls, insluitende die skaars witkop en swartaasvoëls.
Twee berghane en een verlore jakkals het later ook nader gestaan, maar nie
besonders welkom gelyk nie.
Na al die
fotos van aasvoëls was daar terug by die kamp ook tyd vir ‘n gedwonge
groepfotosessie. Nie een nie, maar twee!
Teen sononder het Ghoewaan, Leidaar en Karolie weer ‘n draai gaan ry terwyl Jaws
en Karlene skenkelpot koes-koes voorberei. Die rondryers was gelukkig betyds
terug vir die voorgereg-ribbetjie. Iets
moes in die nag gebeur het, want jakkals en hiëna spore was rondom die kamp sigbaar die
volgende oggend, maar niemand het iets gewaar nie.
|
Serious |
Hier in Kaal
Harrie hou die goeie goed nooit lank nie, maar ons raak nie suur daaroor
nie: die tye wat die goeie goete meer skaars is, maak ons dankbaar vir die tye
wat dit volop is. So was dit oppaktyd vir die terroriste want hulle tydtjie
langs die pan het tot ‘n einde gekom. Soos hulle uitbeweeg het, sê terroriste
van Walvisbaai vir hulle waar daar leeus op ‘n koppie is. Van die leeus was
agter ‘n draad en van die leeus was voor die draad, maar dis eintlik op ‘n plek
waar terroriste nie hoort nie. Hulle kap toe aan verby Khiding pan na Molatso
pan en aan op die Wildernis trail.
Langs die pad het ‘n jong mannetjie leeu rustig
onder ‘n doringboom gelê, ongestoord deur al die aandag. Sy maters was ongelukkig
nêrens in sig nie.
Die kampplek
vir die aand was by Mosomane pan. Die wolkies het begin saampak en hulle het
vermoed daar was storm aan die broei op ‘n ander plek (soos die Kaap, wat
inderdaad die geval was). So het daar ook storm gebroei en party het ‘n voorgevoel
oor die kamplek gekry.
So trek hulle behoorlik laer die aand en maak al die gate tussen die bakkies toe. Die wysheid van Kaal Harrie is juis: as jy nie voorbereid is op wat kan gebeur nie, dan gebeur dit. Daai aand het niks gebeur in terme van nagtelike besoekers nie. Al wat wel gebeur het, was dat Sakkie en Karolie ‘n mosselpot gemaak het en dat ‘n hele sak Quality Street daarna gesneuwel het.
Die volgende
môre breek hulle weer die hele laer af en ry tot by 'n kleinerige pannetjie met
paar verdwaalde gemsbokke op. So met die stop word daar besluit dis teetyd en teetyd
word sommer brunchtyd. Gelukkig was daar baie oorskiet van die vorige aande en
al die individuele middagetes; die etery het vinnig gegaan. Tussendeur die etery
word die vyf broers sommer ook opgelei vir fotos – blykbaar nie hulle
gunsteling aktiwiteit nie.
Die wêreld
van daar was ook nie meer plat nie en hulle was terug in die duine. Die
bakkies word dus opgecharge, want die duine is hoog en die pad sleg. Weereens moet
die fyn balans tussen spoed en gemak gevind word. ‘n Ent na die pan steek die cruiser
met Oupa en El Ché vas: daar lê 'n hele trop leeus op die duin met 'n groot swartmaanhaarmannetjie wat duidelik die nek van die plek is. Met die
rondskuiwery dat almal kan sien word daar bietjie te veel gemanoeuvre vir party
se smaak. Na almal fotos geneem het word ‘n entjie verder gery tot ‘n volksvergadering
beroep word. Opinies word gelug en die emosies het seker swaar in die lug
gehang met die gevolg dat daar in redelike stilte verder gery word. Ook nie
veel anders is gesien.
So trek die konvooi weer by Nossob in vir die aand se
oorslaap. Na Oupa se bande geruil is word daar ingesettle vir die aand met steaks op
die menu. So om die kampvuur word daar weer oor die dag se gebeure gesels en
bedoelings verduidelik. Soos ‘n tannie van een van die buurplase altyd gesê
het, is daar "genesende waarde om dinge uit te praat”. So in die gesprek
leer almal mekaar ook beter ken. Dié aand daal daar ‘n ysige koue oor die kamp
neer, maar gelukkig nie meer in die gemoedere nie.
|
Nossob: Witkoluiltjie |
Ek verneem
almal het die nag oorleef; dit terwyl die kwik tot -6 grade Celsius gedraai
het. Met yskoue hande en hopelik warm harte pak hulle op en elkeen kies sy
koers. Oupa en El Ché asook Jaws en Karlene skuif Namibië se kant toe terwyl
die res via Harde Ken terug Kaap toe waai.
Dit was die
laaste dag wat hulle binne die draadloos se ontvangs was. Die volgende paar dae
toe ek my sit weer oudergewoonte op die stoep kry, het ek baie aan hulle
teruggedink en ook aan my broers saam met wie ek geboer het. Ons het ook nie altyd
oor alles saamgestem nie, maar tog het almal sy plek gehad. En elkeen is
gewaardeer vir hulle bydrae, maar dit gebeur ook net as jy verby jouself kan
kyk en die ander ene raaksien vir wie hulle is. So vind almal ook hulle plekkie
en dis wat op die einde die belangrikste is: die gedeelde ervarings en omgee
vir mekaar. En die trane het ook geskiet in my oë wat nie meer kan oop nie as
ek dink aan Kaal Harrie: ek sal wat gee om dit weer te sien.
Gegroet
vrinne,
Oom Basie
van Geelperd