Wednesday 21 June 2017

Visrivier Canyon Ultra 2017

Hi. Oom Gerhard vra of jy belangstel om volgende jaar canyon te hardloop...
Ek stel belang ja.

‘n Whatsapp van my broer einde laasjaar. Gerhard de Kock is sy baas en sy tafeldruiwesaak is Cape Orchard Company (COC). COC het ook plase by Aussenkehr in Namibië. In 2013 het ek deelgeneem aan die Visrivier Canyon Ultra se 65 km “Lite” en daar was ‘n paar haastige manne van Aussenkehr ook by. Antonie van Heerden was die plaasbestuurder op Aussenkehr en hy het gereeld van sy werkers op aktiewe uitstappies geneem en die Visrivier was maar net een van hulle. Dus was daar geskiedenis van COC mense in die canyon.

Ek het verskillende stories gehoor van hoe dit gekom het dat die vraag laasjaar aan my (en ander) gerig is. Die een was dat die manne van Aussenkehr vir oom Gerhard gevra het “of ons volgende jaar weer gaan hardloop”. Die ander is dat hy ‘n rede gesoek het om homself en paar ander in die maatskappy uit te daag om te werk aan hulle gewig/fiksheid. Hoe dit ook al sy, toe die inskrywings oopmaak staan daar ‘n hele bondel van COC se werknemers, asook aanhangsels (soos ek), gereed. (Ek verstaan dié Visrivier, of sommer net die “canyon”, uitstappie was die plaasvervanger vir die jaarlikse kantooruitstappie... )

Die canyon. 📷Niel Fyfer
Die canyon Whatsapp groepie het behoorlik gegons en die gevolg daarvan was dat daar die aand voor die wedloop 34 atlete (uit ‘n veld van so 100) van COC ingeklok het by die race village by die Swaelbronne se uitkykpunt. Ondersteuningspan en als.

Die race village. 📷 African Extreme Promotions se Facebook page

Vanaf die bean bags op die rand van die afgrond het ons die hoofborg se produk geniet terwyl ons nonchalant (probeer) strategie gesels en die kaart (weereens) bestudeer word. Kort-kort was daar ‘n stilte in die geselskap en dan staar jy na die rustigheid van die canyon daar onder en probeer die onstuimigheid binne jou beheer. Ek het myself telkemale gevang dink aan waar ek môre die tyd sal wees en ook met effense onrustigheid waargeneem hoe vinnig die son sak. Later het die organiseerder die finale reëlings deurgegee en al wat ek kon onthou is dat as jy in die paadjie gaan sit sal die sweepers jou wel kry. En ook dat die polisiehelikopter in Windhoek op roep is...

Na stewige braaivleis aandete het almal gaan inkruip. Die wat kon, het geslaap tot ongeveer middernag. Daarna het die rukwinde die tente laat flap tot almal in die donker gelê het met net hulle eie gedagtes. Die 100 km het 05:30 (Nam tyd) weggespring en die 65 km ‘n uur later. Ten spyte van die geen-slaap-vroeg-opstaan meld ek aan by die begin met minder as dertig sek voor die skoot klap. Toe hardloop ek maar agter vir die eerste 10 km (was nie te slegte plan nie).

Die 65 km COC span. 📷 Gerald Dark
Die COC 65 km span het meer georganiseerd weggekom en teen die tyd wat ek by hulle afgaanpunt gekom het was daar net spore oor. En ek moes nogals ‘n hele tydjie wag voor ek meer as spore gekry het. Eerstens het ek oom Gerhard se span gekry. Ek het oor ‘n shortcut gekom en het nie direk by hulle verby gegaan nie, maar die spulletjie so op ‘n afstand dopgehou. Oom Gerhard kop af met ‘n baie vasberade kyk op sy gesig. Die dokter saam met hom het my gesê daar is nog 55 km oor. Ek het net teruggewaai en gedink ek moet liewer nie aan afstand dink nie. Daarna het ek ‘n baie jolly span raakgeloop met onder andere oom Tom in die pakkie. Oom Tom is amper 75. Altwee sy knieë het gebloei op ‘n stadium, maar hy het bly kom. Hulle het almal vir my kos aangebied en ek moet erken die Aussenkehr dadel was nogal die regte ding op die regte tyd.

Die 65 km se afgaanroete. 📷Arjan de Kock
Oor die volgende shortcut kry ek ander twee deelnemers, ‘n oom en sy dogter (kleindogter?). Baie vriendelik en vol gees. Duidelik ken die oom die canyon soos die palm van sy hand, want na hy my water gegee het was al wat ek kon aanbied ‘n bevestiging van die pad. Toe verduidelik hy vir my hy ken “die draai, hou links tot amper by die vaalbos en dan oor die rivier na die (Rosyntjiebos) shortcut”. 
Oom Tom  📷Charl Hugo
By dié shortcut aangekom vra die beamptes vreeslik omverskoning dat hulle net Coke Lite het. Dit was beter as niks! Maar hulle belowe my by die bakkie op die nek by die Viervingers is daar ‘n coolbox en ek “moet maar kyk wat daar is”. Daar gekom wag koue bier, water en Steri Stumpies op ons. Ek het nog nooit ‘n Cream Soda Stumpie so vinnig en so lekker na onder gestuur nie.

Die getjommel vanaf Von Trotha se graf tot by Kochasdrif het darem nie te lank aangehou nie. By Kochasdrif was daar omtrent ‘n partytjie aan die gang. Die COC ondersteuningspan het nie gediskrimineer nie: daar is wors, steak, aartappels, Coke, piesangs en what not alles aangedra. Tannie Ditta bring my ook op hoogte van hoe almal vorder terwyl ek my mond volprop en ander helpers my water volmaak en nog kos aandra. Sy vra na oom Gerhard en ek sê die oom kom “baie gedetermineerd aan”. Tannie Ditta sê net “ja wat, hy sal gedetermineerd wees tot hy omkap” (of so iets). Terwyl ek sit het ek maar my liggie uitgepluk, want dit sou nog nag raak.

Op die hoogte na Kochas vang ek klomp van die COC span se dames. Hulle lyk goed en ek maak my uit die voete want die wind was van voor en die dag was al lank (en warm, ek het amper 34 gemeet op ‘n kol). Op die groot sandvlakte waar jy die eerste maal weer vir Spieëlberg sien (en weet die huis is nie te ver nie) kry ek die De Villierse. Tanya was al ‘n hele paar weke swanger toe sy reeds in is vir die ding. Sy het gestraal en was vol stories, maar vir haar en Christiaan los ek ook maar daar, want ek het nog probeer om die laaste daglig te jaag.

Paar draaie en paar manne met stywe bene wat swaai-swaai loop later was dit donker in die canyon. Die volmaan moes nog kom, so vir eers was dit goed donker. Gelukkig kon ek die stapperspore heel maklik kry en volg. Ver links en ver regs het ek liggies gesien en ek kon net hoop hulle het die pad. Die ander ding wat ek van die race briefing onthou het, was dat dit beter is om die lig in jou hand te hou as op jou kop (dan is die spore in die sand baie duideliker).

Die canyon was stil met net my eie asemhaling en die gesuis van die sand onder my voete vir geselskap. Eensklaps ruk ek soos ek skrik want daar het ‘n kreet deur die canyon weergalm opgevolg deur ‘n ander stem wat skree “waar is die pad?!?”

“Links! Kom links!” Het ek geantwoord ek en skyn na die stemme se kant toe. Ek stap toe maar aan, want ek wil ook by die huis kom.

“Hey! HEY! Waar gaan jy!?!” (Dit was die woorde, maar die betekenis was: “Staan stil of ek $%@# jou!”.) Ek stop en skyn in ‘n boom in dat hulle kan pyl.

“Wie is jy?!?”

“Coos!”

“O, Coos!?! COOS!! Wag asseblief Coos, moet ons nie los in die #$%%*& plek nie! Asseblief, Coos!”

Daar kom Jono en Anlo aangestryk. Hulle was gatvol gesukkel: GPS batterye dood en hulle eie batterye ook pap. Ons klap die laaste bietjie toon saam. Dit het heelwat konsentrasie geneem, want die pad hou totaal te lank aan vir ons almal. Dan eensklaps doem die damwal voor jou op. Oor dit sien jy die ligte van die eindstreep en ons het geweet die huis is naby.

Anlo, Jono en ek. Klaar en klaar. 📷Paul Joubert
Ongelukkig het nie almal van COC die eindstreep gehaal nie, maar reeds daai aand was daar gesê hulle sal terug wees. COC het die vure hoog laat brand tot die laaste deelnemers by die huis was en die res al geslaap het.

Die volgende oggend gesels ek met oom Gerhard. Hy is duidelik passievol oor die maatskappy en verduidelik dat hulle die vriendskapsmodel volg: mense moet met mekaar kan praat en die bande wat mens bou is meer as net om salaris te kan trek teen einde van die maand (my intepretasie). Dit staan duidelik uit in die groep mense. Die ander ding wat ek opgelet het was dat hulle  mense is wat weet hulle bestaan is nie net in hulle eie hande nie, maar saamwerk en planne maak is nodig as die weer of omstandighede nie saamspeel nie. Dit maak die spul ‘n gemoedelike klomp wat die rukke en stote van ‘n hele dag se uitdaag op ongenaakbare terrein gelate te aanvaar en eintlik te geniet (“ons het mos gekies om hier te wees”). EN rolle duct tape saamdra, want hulle weet iewers sal plan gemaak moet word en vir planne is daar niks soos Amerikaanse bloudraad nie.

Ons kan maar weer gaan.



Tuesday 20 June 2017

As dit nie gaan oor wen nie.

Uit die argiewe: geskryf vir die defunct willeklong.co.za, Januarie 2010

Die artikel het ek in my kop geskryf oor vyf lang ure.  Ek moes net iets kry om aan te dink, om my aandag bietjie af te trek van die ongemak wat deur my kop gedonder het.  Dit was soos ‘n suidoostewind wat waai asof dit ons almal in die see wil waai.  Maar soos die wind, kon ek nie regtig van die ongemak skuil nie, dus kon ek nie te ver van die onderwerp afdwaal nie. 

Dis die Desert Dash 2009, skof 3 van 4, 187km van 340km al gery.  Toe besluit ek ek is klaar, want vir die afgelope 150km het ek al gevoel of ek wil dood en ek sien nie kans vir nog 150km daarvan nie.  Dit was nie maklike besluit nie, dit was die eerste maal dat ek ‘n fisiese uitdaging nie klaar maak nie.  Die vorige kere wat dinge verkeerd geloop het was dit nie maklik om klaar te maak nie, maar hierdie keer het hy my in ‘n hoek: ek het nie meer keer in my nie en die houe het ongenaakbaar bly val.  En toe lê ek daar, in die louwarm Namibiese na-nag, platgeslaan, met slegs die gedagte: “As jy nie iets doen om te wen nie, hoekom doen jy dit dan?”

By die brug oor die Kuisebrivier: in my tjops en min lus vir die lewe. 
 Wanneer ek normaalweg die vraag gevra word, lag ek dit af en antwoord: “Want ek kan”.  Toe kon ek nie meer nie, so hoe nou?  Ek het ‘n lang nag gehad om daaroor te dink.  Die antwoord het ek eintlik al geweet, het dit besef toe ek oor een van die honderde naamlose bultjies van die tweede skof gery het:  Ek doen dit om my prioriteite uit te sorteer. 

Ek dink in almal se moderne lewens is daar groot stukke grys areas.  Die wit en die swart is gereligeer tot die periferie van die lewe.  Behalwe vir die fanatici (van enige aard), die dronkes en die wat nie meer wil dink nie.  Daar is nie meer globale regte antwoorde nie.  Ja ons almal weet wat reg is en wat verkeerd is, daarvoor is daar genoeg landswette.  Wette gaan ongelukkig nie oor waarheid nie.  Waarheid is iets wat elkeen vir onsself moet gaan soek.  Ek dink ons is almal te gemaklik, ons hoef nie meer te oorleef nie.  En dus hoef ons nie meer instinktiewe, nou-of-nooit besluite te neem nie.  Mens kan meeste besluite verander of omseil.  “... ek wil nie meer dit of dat koop nie...ek kan dit mos binne ‘n week teruggee? ... nee, nee daar is niks fout met die produk nie ... ek het bloot anders besluit...”

Dis hoekom ek eintlik bly is oor die nag in die Namib woestyn.  Toe ek nie meer kon nie.  Ek moes ‘n besluit neem.  Na alle kante toe was nie lekker opsies nie.  Of ek ry aan, wees vir nog 150km naar met ‘n maag wat 17km te vore dolleeg gemaak is (en ek kon nie veel intussen inkry nie).  Of stop dit hier; live to fight another day.  Moet wel dan aan almal verduidelik hoekom ek dit nie gemaak het nie.  Loss of face moet verduur (al is dit net in my kop).  Probeer dinge rasionaliseer, dit was nie my dag nie - soos ‘n vriend sê:  Op die dag kan Bangladesh kan die Proteas klop.  Maar my selfvertroue het wel ‘n knak gevat.  Wat as dit weer gebeur – hoe gaan ek dan reageer?  Ek weet nie hoe ek sal reageer nie, maar ek sal die gevoel herken wanneer ek weer daar kom.  En omdat ek weet wat aan altwee kante van die besluit lê glo ek ek sal dit beter kan hanteer.  So word nog ‘n lewenseksamen afgelê.  Die uitslag maak nie saak nie, net die ervaring wat nuut verkry is. 

Na so ‘n ervaring is die grysareas ewe skielik in die alledaagse kleiner.  Ek is gefokus op dit wat belangrik is.  So word die swart en die wit van mekaar geskei.  Met die tyd saam sal die grys weer groei.  Dan sal ek weet dis tyd om uit te vind hoe dit voel om die einde van my kragte te bereik en voor die keuse van aangaan of ophou te staan.  Al gaan ons miskien nie om te wen nie, behoort daar in alles wat ons doen ‘n stukkie oorwinning te wees. 


Gaan koop vir jou ‘n bicycle, ek sal saam met jou gaan ry. 

Tuesday 6 June 2017

‘n Kalahari leeu in die Visrivier canyon

Marthinus is Herman se neef (om hulle identiteit te beskerm gebruik ek hulle doopname). Hy is lank en lenig, bruingebrand met ‘n wilde bos hare. Hy kom van ‘n plaas in die Kalahari en jy sal hom nie maklik op ‘n ander plek vang uit vrye keuse nie. Sy bakkie se naam is Dinsdag, want dis die enigste dag waarop daar pyl getrek kan word dat dinge op die plaas (meestal) gebeur soos hy dit wil hê. As hy in die rondte is, is ‘n goeie kuier ook. Hy praat wel nie baie nie, maar het baie planne.

Herman kom oorspronklik van waar die Kalkveld die Kalahari in die Suide van Namibië ontmoet. Hy is die fikste vetste mens wat ek ken. Dit help dat hy lank is, want so steek hy sy rondheid eintlik goed weg. Wat nie help nie is dat hy sulke kieriebene het. Hy het hulle “Spyker” en “Riet” gedoop, want die een is dunner as die ander. Hy is ook ‘n man vol idees. Een van hulle was dat hy gedink het dis ‘n goeie idee om in 2013 die Visrivier canyon te gaan hardloop.

Spyker, Riet en die stokies.

Die Visrivier canyon in die Suide van Namibië is die grootste canyon in Afrika en die tweede grootste in die wêreld. Die staproete deur die diepste deel van die canyon neem gewoonlik vyf dae om te voltooi, maar sedert die staproete oopgemaak is, was daar al geharde manne (en dames) wat die roete in een dag probeer voltooi het. Sedert 2011 is dié uitdaging ook ‘n formele wedloop wat gewoonlik plaasvind die naweek naaste aan die volmaan in Junie. Daar is twee afstande: die Ultra 100 km en die Lite 65 km wedloop. Die wedloop begin by die bopunt van die Swaelbronne se nooduitgang. Die 65 km sak direk af na die canyon via die nooduitgang. Die 100 km draf 10 km op die rand van die canyon tot by die tradisionele stappersbeginpunt. Vandaar volg die 100 km roete die staproete van 87 km.

Die 87 km van die staproete word gemeet op die rivier se loop. Natuurlik is dit nie hoe enige iemand dit sal loop (swem?) nie: die rivier maak etlike wye draaie wat gesny kan word. Natuurlik is daar ook plekke waar mens met ‘n ligte klimmetjie uit die rivierbedding omtrent ‘n hele draai kan uitsny. Op die wedloop se roete is daar maksimum drie punte waar deelnemers moet aanmeld: onder in die canyon by die Swaelbronne se nooduitgang, ‘n paar kilometer van die begin af en Kochasdrif, 20 km voor die einde. (Die 100 km meld ook aan by hulle afgaanpunt.) Dus is daar ‘n groot stuk waar deelnemers self hulle pad moet vind.

Herman het my maklik omgepraat om saam met hom die “Lite” te doen. Ek is seker hy het ook die saadjie by Marthinus geplant, maar Marthinus is nie ‘n man vir half measures nie: hy skryf toe vir die Ultra in, want hy het ook “Born to run” van Christopher McDougall gelees. Kort opgesom maak die boek die punt dat ons as mens eintlik gemaak is om lank en aanhoudend te kan hardloop en ook dat die moderne skoen nie die voet se natuurlike beweging toe laat nie en dit gee aanleiding tot beserings. Die sterre van die boek is die Tarahumara Indiane van Meksiko wat met sandale (huaraches) die hele plek vol hol. So sit Marthinus een aand op die stoep van sy plaashuis, rustig uitgekamp met sy stokie pantoffels aan. Die manne bring nog die laaste vee by die werf in, maar daar gaan iets fout en Marthinus moet opspring om te help keer. So besef hy die stokies hardloop nogals gemaklik, behalwe dat die sole bietjie te dun is vir die Kalahari duwweltjies. Paar dae later staan hy in die stoor en sien ‘n vurkhyser se voorwielband lê daar eenkant. So in die dink glip Marthinus sy voet in die tyre in en besef dat die tyre nogal gemaklik pas aan die ronding van sy voet. Ter stons sny hy die tyre op en gom dit aan die sool van sy stokies en daar het hy sy nuwe hardloopskoene. Toe Marthinus by die wedloop opdaag het hy al etlike honderde kilometres met sy stokie skoene gehol en geen probleme opgetel nie.

Die aand voor die wedloop raak Marthinus en ‘n ander local om ‘n bottel wyn (of dalk iets sterkters) aan die kuier. Later bestudeer hulle die kaart in diepte. Ek was nie self by nie, maar ek verneem hulle het met nuwe oorgawe (en ‘n nuwe plan) gaan slaap.

Met sy surfer tan en bos hare maak Marthinus gou vriende, veral onder die skoner geslag. So het hy gerëel dat hy sy proviand eers by die afgaanpunt kry en dus die eerste 10 km sonder ‘n sak kan draf. Verder sal die res van sy kos en benodighede by Kochasdrif vir hom wag, sodat hy ook met die minimum die grootste gedeelte van die canyon kan draf. O en die sweepers sal ook ‘n ander paar skoene (vir in case) afdra na waar die Lite en die Ultra se roetes mekaar ontmoet.

Die oggend lyk Marthinus heel vrolik en reg vir aksie toe hulle wegspring. Ek en Herman begin ‘n uur later met ons werk vir die dag. Ek het my dag heelwat geniet en maak nog in die lig klaar. Vroegaand kom Herman ook by die eindpunt aan en hy help my verder met die verversings, wat ruimskoots deur die hoofborg Windhoek Lager verskaf word, terwyl ons op Marthinus wag. Ons het verwag dat Marthinus eintlik nie te ver op Herman se hakke sou gewees het nie, maar soos die nag kouer raak is al wat uitkom Marthinus en sy medepligtige. Toe meeste van die dames in die wedloop reeds klaar gemaak het begin Herman bekommerd raak en probeer uitvind waar dié manne is . Die organiseerders vertel hom dat die sweepers (wat die heel agterste hoede dek) reeds by Kochasdrif is en geen sout of water van Marthinus en die ander makker weet nie. Toe kom die sak patats uit dat met die vorige aand se bestudeer van die kaart by die lig van die bottel Marthinus en sy makker besluit het dat die slimste ding om te doen is om net na die Swaelbronne se checkpoint uit die canyon te klim en dan op die rand te hardloop. So entjie voor Kochasdrif kom die Rosyntjiebosrivier as sytak van die Visrivier in die canyon in. Hulle plan was om in een van die bolope van die Rosyntjiebos in te klim en dan dié te volg terug na die canyon.

In blou is die staproete en in rooi my interpretasie van die "goeie idee".

In hulle voortvarendheid het slegs Marthinus water gedra, want hulle plan was om tjop-tjop by Kochasdrif te wees. Ongelukkig, toe die ander man die eerste sluk water van Marthinus se Camelbak wil neem weet hy nie lekker hoe werk die “bite valve” nie. Hy trek toe die valve uit en suig sommer uit die pyp. Met die terugsit doen hy dit nie behoorlik nie. Toe Marthinus sy eerste sluk wou neem, kom hy agter dat die natterigheid wat hy op sy rug gevoel het nie alles sweet was nie.  Op die punt moet ek noem dat dit daardie jaar so droog was dat geen stappers in die canyon toegelaat is nie.  So al wat die twee kon doen was om voort te beur.

Ek verstaan dat dit later maar vreeslik broekskeur gegaan het met die twee. Die Rosyntjiebos was droog soos poeiermelk en die son was warm (34 grade is daardie dag onder in die canyon gemeet). Later in die dag het hulle nie meer gepraat of na mekaar gekyk nie, want die opgee in die ander se oë wou nie een sien nie. Teen laatmiddag kom hulle wel op ‘n beslykte poeletjie water af, wat blykbaar nog nooit so goed gesmaak het nie. Met water tekort tydelik opgelos word hulle gekonfronteer met die feit dat hulle die Rosyntjiebos behoorlik onderskat het. Dit is vol klippe en los sand en hulle kon glad nie so vinnig beweeg as wat hulle wou nie. Boonop is meeste van hulle kos by Kochasdrif. En dit was besig om vinnig donker te raak.

Uiteindelik bereik hulle weer die Visrivier, maar die Rosyntjiebos kom in op ‘n draai wat gewoonlik nie gestap word nie. Hulle sin vir rigting was ook nie te waffers nie en blykbaar stap hulle toe stroomop (die rivier het nie gevloei nie…).  Gelukkig het iemand die shortcut wat Rosyntjiebos uitsny met ‘n fietsliggie gemerk en hulle kry toe die en kom so terug op die roete.  Of miskien het hulle stroomaf gestap en die volgende shortcut gekry, wat ook gemerk was – ek kon nie mooi die storie uitpluis na die tyd nie. In elk geval, na lang gesukkel strompel die twee om half-een die oggend by Kochasdrif. Teen daai tyd het ek al gaan slaap en toe Herman dié berig kry besluit hy kan ook maar inkruip, want die manne sal bakkie klim en direk huistoe kom.  Blykbaar nie. Die manne sê hulle gaan self by die huis kom, ten spyte daarvan dat hulle gediskwalifiseer nie. So beur hulle voort tot by die eerste shortcut na Kochasdrif, waar nogals ‘n stywe randjie geklim moet word (Bandage Pass). Daar steek die medepligtige vas en sê hy klim nie een meter verder nie en draai netso in die praat om. Toe gaan Marthinus maar saam, want hy kon sien hy gaan nie die man omgepraat kry nie. Die oggend sesuur word hulle by Ai-Ais afgelaai en die medepligtige het blykbaar onmiddellik die pad gevat huistoe.

So bietjie later kry ek vir Marthinus waar hy langs die swembad sit en staar na die water. ‘n Halwe bier staan al warm langs sy stoel. Sy oë sit diep in hulle kaste. Ek vra hom hoe was dit en lyk of hy deur my kyk na iets wat hy nie eintlik wil sien nie en hy antwoord net: “Dit was amper. Op ‘n stadium het ons na mekaar gekyk en ek het begin wonder of dit nou dit was.” Ek los hom toe maar daar met sy gedagtes terwyl hy wag vir Dinsdag. (Dinsdag is maar ‘n steeks donkie en die drywer wat die bakkie sou bring was nie bekend met al Dinsdag se streke nie: blykbaar met Dinsdag moet jy liefs altyd teen ‘n afdraend stop.


Marthinus het oorleef, maar ek dink nie hy is baie lus om weer die canyon so te gaan hardloop nie. Ek het wel onlangs verneem hy het uit versigtigheid toe wel sy stokies geruil het vir oordentelike skoene voor hulle van die roete afgewyk het (dit was ‘n  varsgegomde paar en dus was hy nie seker van hulle nie), maar hy sê “dit was onnodig, daai stokies loop vandag nog!”. Dalk vat hy hulle binnekort deur daai stokies hele canyon ...

Lekhubu-eiland en Tuli-blok gedurende die reënseisoen

Dit is tans nie min warm in Botswana nie. Lae tot middel 30'C deur die dag. Snags koel dit nie veel af nie: 08:00 die oggend is dit ree...